BlogsOpinion

‘Kalkoentyd’ in die land

Waar politieke partye mekaar nie met modder gooi nie, speel hulle andersins ’n behoorlike toorspel en kiesers moet mooi fokus om die vinnige hande agter die “kul jou hier kul jou daar”-reklameveldtogte raak te sien.

Stemdag op Woensdag 8 Mei is oor minder as ’n maand en dit is asof kiesers in aanloop tot dié verkiesing in ’n groter mate as in die verlede moet kopkrap oor waar hulle hul kruisies gaan trek.

Die deelnemende partye is besig om die laaste vere reg te skud voor verkiesingsdag en daar word enige haas uit die hoed geruk om kiesers oor te haal om hul kruisies op die “regte plek” te trek.

 

Waar politieke partye mekaar nie met modder gooi nie, speel hulle andersins ’n behoorlike toorspel en kiesers moet mooi fokus om die vinnige hande agter die “kul jou hier kul jou daar”-reklameveldtogte raak te sien.

Theo Venter, ’n politieke en beleid-spesialis en dosent aan die sakeskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) het op Woensdag 3 April tydens ’n landbouskou in die Laeveld die spyker op die kop geslaan toe hy gesê het Suid-Afrika is nou in politieke “kalkoentyd”.

Te midde van dié spel is daar ’n groot aantal kiesers wat hulle op die kantlyn bevind. Partye wat voorheen deur kiesers as ’n politieke “tuiste” beskou is, se huisreëls het só verander dat kiesers nou buite in die koue sit: ’n vreemdelingservaring wat, volgens politieke ontleders, deur sowel liberale as meer gematigde kiesers gedeel word.

Daar het immers 25 jaar verloop tussen die eerste demokratiese verkiesing in 1994 en die komende verkiesing. En ’n hele nuwe generasie ry nou saam op die verkiesingswa.

Dit is dus te verstane dat die tradisionele magsbasisse van die meeste partye anders lyk as ’n kwarteeu gelede. ’n Nuwe groep kiesers kyk nou deur ’n ander lens na die politieke landskap.
En die prentjie wat hierdie kiesers deur hul lens sien, is nie ’n mooi landskap nie.

Miskien het dit tyd geword dat kiesers juis in die komende verkiesing fokus op dit wat nog goed, eties en reg is. Anders sal ’n mens deur die politieke maalstroom meegesleur word.

Om op die goeie te fokus, is dit dalk nodig om die politieke boelies te ignoreer en dalk die beleidsdokumente van álle politieke partye nader te trek en eerder met die hart as met die kop te stem deur ’n kruisie te trek langs die naam van ’n party wat beginsels eerder as mag nastreef. ’n Party wat eerder fokus op partybeleid as om modder bymekaar te maak vir ’n kleilatkompetisie. ’n Party wie se leier en kandidate bo verdenking is.

Sulke partye is dalk yl gesaai, maar as ’n mens baie mooi fokus, sal jy hulle vind.

En indien politieke ontleders se voorspellings reg is dat Suid-Afrika dalk in die toekoms deur koalisie-partye regeer gaan word, sal die redelike stem van kleiner rolspelers hopelik ook teenwoordig wees.

Related Articles

Back to top button