BlogsOpinion

Hoofartikel: Skryf vir my ’n briefie

Voor ek weet, sit ek op die vloer in my kantoor met Minaarstraat se son deur die venster en raak verdiep in ’n stapel stokou dokumente.

Ek woon in ’n huis van manlike praters en vroulike skrywers.

Die manne sê hul sê in woorde per minuut; die vroue skryf briefies. Ons sit dit onder kussings en in kosblikke as ons lief is en op toe deure as ons befoeterd is. Op skrif, vir almal om te sien en as bewysstuk teen ons te gebruik, lê ons ons harte bloot.

 

Ongelukkig is briefskrywers gewoonlik ook briefopgaarders. Ek het albums, bokse en koekblikke vol briewe in my huis en by die werk. Dit steek uit boeke, hang uit bedkassies en pryk op aansteekborde. Of word geliasseer vir eendag se nodig kry.

Só pak ek onlangs kaste by Die Pos se hoofkantoor in Bela-Bela reg. En voor ek weet, sit ek op die vloer in my kantoor met Minaarstraat se son deur die venster en raak verdiep in ’n stapel stokou dokumente.

Ek lees hoe ’n koerant se batelys en sakeplan 20 jaar gelede gelyk het en waaroor lesers toe ontsteld was — ja, in daardie jare het hulle nog pen en papier, koeverte en seëls nadergetrek wanneer hulle die redakteur oor iets wou uitskel.

Agterin ’n lêer kry ek ’n deurskynende sakkie met ses handgeskrewe kaartjies in. Ek haal dit versigtig uit en vee ontroerd oor die woorde. Dit is die kaartjies en briewe wat ek en my vennoot by die koerant, Bea Emslie, op ons eerste dag as nuwe eienaars — bykans 18 jaar gelede — van lesers ontvang het.

“Graag wens ek julle hartlik geluk. Sterkte. Ek wens julle die wysheid van ’n Salomo toe,” skryf Pieter Kotzé van Renaissance 116, Warmbad.

“Baie geluk met julle oorname van die besigheid. Ons vertrou dit het vlot verloop en bid julle alle voor-spoed toe vir die jare om te kom.” — Tjaart Oosthuizen & kie.

“Alle sukses. Trap jou eie pad oop,” skryf John Fourie.

Daar is soortgelyke skryfies van Clabo Beleggings. Carel en Lize Coetzee en almal by Warmbad Spar. Younus en Fatima Lorgat.

Vir die mense wat eendag my laaikaste by Die Pos se hoofkantoor erf, is dit sekerlik niksseggend; weggooigoed.

Vir my — iets vir die onthoulaai. ’n Bietjie woorde wat wys dat daar tóé al mense was wat in jou geglo het, wat jou ondersteun en geweet het dit is nie maklik om ’n nuwe sakeonderneming te begin nie.

En wat genoeg omgegee het om dit op skrif te sit en aan ’n bossie blomme vir jou vas te maak.

Related Articles

Back to top button