BlogsOpinion

Hoofartikel: Doepa na droomland

Om voor slaaptyd te lees, is vir baie mense ’n doepa na droomland.

Sommiges drink ’n pilletjie om met DF Malherbe se “wondersoete ding” te kan wals.

Ek lê en wonder. Tot laatnag. Soms tot my brein nie meer kán of wil wals nie.

Ek wonder of daar regtig mense is wat nie weet van die Holocaust nie. En ek wonder hoe lyk 6 miljoen mense bymekaar en hoeveel besoekers strafkampe soos Dachau en Auschwitz jaarliks ontvang? Yes, how many deaths will it take till he (man) knows that too many people have died?

Ek wonder oor die burgeroorlog in Sirië en die krisis in die Midde-Ooste. Yes, how many times must the cannon balls fly before they’re forever banned?

Ek wonder oor al die ontwortelde mense regoor die wêreld. Somalië. Meksiko. Birma. Suid-Soedan. Nigerië. How many seas must a white dove sail before she sleeps in the sand?

En ek wonder oor Zimbabwe. Ek wonder of ons buurland se mense saans honger gaan slaap. Ek wonder hoe lank Mugabe nog gaan leef en hoe lank Mnangagwe nog gaan heers. Yes, how many ears must one man have before he can hear people cry?

Ek wonder of die EFF regtig dink dat sosialisme die ekonomiese oplossing vir ons land is. En ek wonder oor Venezuela — en weer oor Zimbabwe. Yes, how many years can some people exist before they’re allowed to be free?

Ek wonder of ons vorige president regtig dink hy het geen skade aan Suid-Afrika aangerig nie. How many roads must a man walk down before you can call him a man?

Ek wonder of Trump regtig dink dat aardverwarming nie bestaan nie. En ek wonder hoekom die Ysberge in Antartika al hoe kleiner word. Yes, how many years can a mountain exist before it’s washed to the sea?

In die pikdonker nag neem ek Bob Dylan se hand en saam wals ons weg na ’n ander werklikheid. Want ek is moeg gewonder oor hoe Eskom se fase 4-beurtkrag of vooruitbeplanning of krisisbestuur werk.

Saam na ’n ander land waar die antwoord, my vriend, iewers in die wind ronddans.

Related Articles

Back to top button