BlogsOpinion

Hoofartikel: Kyk dringend na infrastruktuur by skole

Veiligheid by skole is iets waarna die regering dringend sal moet kyk.

Die tragedie wat die afgelope week by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark afgespeel het, het menige Suid-Afrikaner aan die hart geruk.

Vier leerders is dood, verskeie beseer en ’n hele gemeenskap getraumatiseer toe ’n betonblok van ’n loopbrug uit sy staalstruktuur losgeskeur en bo-op leerders geval het.

Dié ramp het net weer bevestig wat ’n mense gereeld in die koerante lees: die veiligheid by skole is iets waarna die regering dringend sal moet kyk.

Die loopbrug by Hoerskool Driehoek in Vanderbijlpark wat losgeskeur het en 4 leerders gedood het. Foto verskaf

 

Die Pos het byvoorbeeld verskeie kere in die verlede berig oor die eens spoggerige Settlers Agricultural High School in Settlers se vervalle strukture. Selfs onderwysers wat by die skool betrokke is of was, het aan Die Pos gesê dat hulle te bang is om hul lewens in van die geboue by die skoolkoshuis te waag. Foto’s is aan ons getoon van fondamente wat geskuif het en reusekrake in die mure.

Doen ’n mens navraag by die departement van onderwys, is die antwoorde dikwels vaag en onbevredigend.

Dieselfde geld skole waar kinders in puttoilette sterf. Hoe op aarde is dit moontlik dat leerders in 2019 in Suid-Afrika nog van puttoilette gebruik moet maak?

Hoërskool Driehoek se tragedie behoort ’n wekroep te wees vir elke volwassene wat by skole betrokke is.

Daar is reeds ’n veldtog op sosiale media begin waarin gekwalifiseerde siviele ingenieurs se privaat hulp gevra word om broodnodige inspeksies by skole te doen. Daar word spesifiek verwys na kundige advies wat betref stukkende trappe, rugbypale wat deurroes en elektriese drade wat nie behoorlik geïsoleer is nie. Verskeie mense het aangedui dat hulle bereid is om kundige advies kosteloos te voorsien.

Of die departement van onderwys dit sal toelaat dat iemand anders vir hulle kom uitwys wat fout op húl werf is, sal ’n mens maar moet sien.

Intussen hoop en bid ’n mens dat daar daar tog net iewers iets goeds vir die naasbestaandes van die Driehoek-ramp sal kom: ’n Troos. ’n Lig. Vrede. Genade onbeskryflik groot.

Related Articles

Back to top button