BlogsOpinion

Hoofartikel: Wat het tog van die tyd geword?

“Wat sit Mamma so verlore by die konsertklere?”

So plak die kind toe verlede week die groot rooi L agterop my motor vas.

Wees geduldig met my, vra die plakker. Moenie toet en my nog meer paniekerig maak nie. Moenie my aanjaag as ek huiwer voordat ek wegtrek nie. Moenie vingertekens rondslinger as ek die enjin laat vrek nie. Leerlingbestuurder. Klein grootmens.

Foto ter illustrasie.

In dieselfde week tref die Groot Skoonmaak my.

Ek laai ’n boks vol wit babaklere-hangers by ’n amper-ouma af. Ek hou dié hangers al jare lank in ’n kas. Soms het ek dit afgestof en daaroor gestreel, maar dit dan weer weggepak. Ek kon dit nie oor my hart kry om dit weg te gee nie. Maar nou is dit tyd.

Ek dra ook vier bokse vol konsertklere by ’n kreatiewe ma met ewe kreatiewe kinders se huis in.

Die vorige aand het ek tot laat by die klere gesit. Iets ingepak, dit weer uitgehaal, dit weer teruggepak. Rooi Rooikappiemantels en geel gifappelklere vir Boekedag, bontversierde krone vir die Sondagskoolkonsert, blink foeliebroeke uit ’n revue, spinnekopklere vir ’n boekvoorlesing.

“Wat sit Mamma so verlore by die konsertklere?” vra die kind met die leerlinglisensie agterdogtig in die verbygaan.

“Nee ek sit sommer,” antwoord ek te gou en kyk by die venster uit.

Want net anderdag was The Sound of Music nog haar gunstelingfliek van alle tye. En wanneer ek vir haar opdragte gegee het, het sy my graag gesnip met: “I am Liesl. I am 16 years old and I dón’t need a governess” (haar gunstelingaanhaling uit die fliek).

En ewe skielik is sy besig met matriek. Met aansoekvorms vir die dinge van die grootmenslewe. Sy bespreek haar eie vliegtuigkaartjie op die internet en waai soos ’n ou reisiger vir my soentjies by “domestic departures”. Sy vra dat ek vir haar ’n WhatsApp moet stuur dat ek veilig is wanneer ek saans iewers heen moet ry.

As jou kind in matriek is, weet ’n mens nie altyd wat om met al die dinkdinge in jou kop en in jou hart te maak nie. Voor jy weet, loop dit by jou oë uit. Want hoe is dit moontlik dat die tyd so gou verby kon gaan? Hoe het dit gebeur dat jy in die passasiersitplek sit terwyl die een wat jy nog anderdag in die waentjie gestoot het, agter die stuurwiel inskuif? Hoe het dit gebeur dat jý die een geword het wat moet laat weet as jy veilig is?

Related Articles

Back to top button