BlogsOpinion

Wat is hoop?

’n Mens wil jou verstout om te sê dat hoop ’n deug is wat alle ander oortref.

Mense regoor die wêreld gaan die feesseisoen binne terwyl politieke en ekonomiese onweerswolke oral swaar in die lug hang.

Met die gebrek aan absolute waarhede wat die postmoderne tydperk kenmerk, is dit seker te verstane dat die mens in ’n draaikolk van onsekerhede en kontrasterende wêreldgebeure vasgevang is.

 

 

In die Verenigde Koninkryk hou die mense hul harte vas oor die gevolge van die Brexit-onderhandelingsvoorstel, wat volgens kenners se voorspellings dié wêreldmoondheid se ekonomie met tot 30% kan laat krimp. Tog gaan dié moondheid se eerste minister, Theresa May, met groot selfversekerdheid en hoop voort op die onderhandelingspad.

Antisemitisme is besig om wêreldwyd soos ’n plaag te versprei en tog het die Jode die afgelope week in elke uithoek van die aarde gereed gemaak vir die Joodse Hanukkah-fees, ook bekend as die fees van ligte, wat vir agt dae duur. “Hanukkah” kom van die Hebreeuse term “hanukkat” wat toewyding of “hertoewyding” beteken.

In ons eie land is die Eskom-beurtkrag voor Kersfees op die mees ongeleë tyd denkbaar. En tog maak sakelui planne en adverteer hul Kersaanbiedinge, versier hul winkels en speel vrolike Kersmusiek. En ’n mens wil glo dat Suid-Afrikaners in dié donker tyd die afgelope week die figuurlike vreugdesvure aangesteek het oor die ekonomiese groei van 2,2% in die derde termyn wat die land uit ’n tegniese resessie lig.

In Die Pos se eie lesergebied is daar watertekorte, die reën bly weg en die uitermate warm toestande tap ’n mens se liggaamlike én geestelike energie. Tog is daar steeds boere in die Waterberg-omgewing wat met groot hoop in hul harte saad in die grond geplant het.

En ten spyte van die ekonomiese druk, watertekorte én kragonderbrekings, is daar steeds sakelui wat kans sien om nuwe ondernemings in die koerant se lesersgebied te open. ’n Mens haal jou hoed af vir die eienaars van SuperSpar op Bela-Bela wat dié winkel ná ’n vernietigende brand in 2017 weer herbou het en beplan om nog voor Kersfees hul deure oop te maak.

’n Mens wil jou verstout om te sê dat hoop ’n deug is wat alle ander oortref.

Jean Anouilh het reeds aan die begin van die vorige eeu hierdie deug deur die volgende woorde beskryf: Om te hoop is ’n daad van moed. Om op die drempel van wanhoop nóg te hoop, laat so ’n vrede oor jou neerdaal dat ’n mens amper sou kon sê jy is gelukkig.

Dié woorde beskryf die rede waarom miljoene mense regoor die wêreld en in Suid-Afrika steeds hierdie feesseisoen kan binnegaan met vrede in hul harte.

Related Articles

Back to top button