BlogsOpinion

Hoofartikel: En nou is dit Desember…

Die gees van Kersfees het ’n manier om ’n mens sagter te maak, rustiger, dankbaar, vergewensgesind.

Elke jaar dié tyd is daar mense wat mor omdat die winkels se Kersversierings “sowaar in November al op is” of omdat Boney M se Jingle Bells hulle grensloos irriteer.

Ander skimp steen en been dat daar “ander” is wat te veel waarde heg aan geskenke en daarom kwansuis die ware betekenis van Kersfees misloop.

En dan praat ons nie van hulle wat wyd en syd loop en verkondig hoe min lus hulle vir die jaarlikse Kersete by die werk of die familie-ete op die stoep het nie.

Of hoe warm dit is. Hel, dit is warm! Kry julle ook so warm? Ek kan nie onthou wanneer laas ek so warm gekry het nie!

Die Pos se personeel was die afgelope week kniediep in die Kersgees met dié dat ons besig is om ons jaarlikse gewilde Kersuitgawe vir die drukkers voor te berei. Terwyl ons lesers nog in November se nie-Kersgety gebaai het, het ons sakke vol briewe aan Kersvader gelees, Kersresepte uitgetoets, deur die afgelope jaar se goeie- en slegtenuussstories geblaai en planne beraam vir ’n treffende voorblad vir dié koerant — wat elke jaar ons topverkoper by die lesers en adverteerders is.

Die gees van Kersfees het ’n manier om ’n mens sagter te maak, rustiger, dankbaar, vergewensgesind.

En daarom is dit ons wens dat dié vreugdes ook nou, met die aanbreek van 1 Desember, in volle swang na ons lesers sal oorspoel.

Mag jy die vrolike mense en hardwerkende personeel in die oorvol winkels raaksien en waardeer. Lees in ons Kerskoerant hoe dit vir dié mense voel om op Kersdag te werk en wees dankbaar indien jy nie een van hulle is nie.

Mag jy vrede hê en die drang onderdruk om ’n geniepsige mening uit te spreek oor hoe ander mense verkies om Kersfees te vier — met of sonder geskenke, kruise, bome of kerkdienste.

Mag die gekwetter van kinders en familie jou vervul met dankbaarheid en die berge skottelgoed oornag in molshopies van genade verander. Want daar is ander wat enigiets sou gee vir ’n langtafel met mense, kos en geselsies.

’n Mens gaan nie sommer dié tyd van die jaar wegkom van Jingle Bells, Boney M, vol winkels en warm Suid-Afrikaanse somers nie. Jy kan dit net sowel uitbundig omarm en saggies saamneurie: Parampampampam!

Related Articles

Back to top button