BlogsOpinion

Hoofartikel: Wees ingelig

’n Mens moet egter in ag neem dat die verbruiker eerstens nié ’n kenner in versekering is nie. Die terminologie wat in kontrakte gebruik word, is dikwels vir die meeste mense onverstaanbaar.

Die sosiale mediastorm wat die afgelope paar dae geheers het oor die aanvanklike weiering van die versekeringsreus Momentum om ’n lewenspolis uit te betaal aan die familie van ’n slagoffer van geweldsmisdaad, het weer die kollig op verbruikersregte geplaas.

Die betrokke versekeringsmaatskappy het geredeneer dat die slagoffer nie ’n siektetoestand in sy aansoek om lewensversekering verklaar het nie en dit het beteken dat die algehele kontrak tussen verbruiker en diensverskaffer dus ongeldig is — selfs al het die oorledene nie aan dié spesifieke siekte gesterf nie.

 

 

Aan die ander kant het die familie van die oorledene beweer dat hulle nie volledig ingelig is oor die “fynskrif” in die versekeringskontrak nie.

’n Mens wil jou nie uitspreek oor die regsaspekte in dié saak nie , maar ’n mens kan jou vereenselwig met die teleurstelling of ontnugtering van die oorledene se familie.

Daar is baie mense wat al ontnugter was oor ’n versekeringseis wat nie wou uitbetaal nie omdat die versekerde nie die “fynskrif” gelees het en daarom nie kwalifiseer om vergoed te word nie. En dit gebeur in feitlik elke afdeling van die versekeringsbedryf: voertuie, selfone, geboue, medies, siekte, ongeskiktheidsvoordele, inkomstedekking én reisversekering.

Dit sou onregverdig wees om al die skuld op die versekeringsbedryf te pak. Die verbruiker het immers die kontrak onderteken en is veronderstel om ingelig te wees oor elke klousule in ’n kontrak.

’n Mens moet egter in ag neem dat die verbruiker eerstens nié ’n kenner in versekering is nie. Die terminologie wat in kontrakte gebruik word, is dikwels vir die meeste mense onverstaanbaar. Wat in versekeringstaal as “algemene kennis” beskou word, raak eers bekend aan verbruikers as hulle eis nié uitbetaal word nie. Dit is byvoorbeeld nié algemene kennis dat ’n voertuig wat in die platteland verseker is, noodwendig in die stad ver-seker is indien Jan of San dié voertuig as studentekar op universiteit gebruik nie.

Ten minste weet die meeste Suid-Afrikaanse verbruikers, ná die Momentum-debakel, dat ’n mens niks mag verswyg in ’n versekeringskontrak nie. En hopelik roep dit verbruikers verder op om ’n afspraak met hul makelaars te maak en elke klousule in hul kontrak deeglik te bespreek én te verstaan en seker te maak wat in- en uitgesluit is in die kontrak.

Onkunde is immers nie werklik ’n verskoning nie.

Related Articles

Back to top button