BlogsOpinion

Hoofartikel: Waar trek ’n mens die streep?

Die beste salf wat aan dié matriekseer gesmeer kan word, word by die ouerhuis gemeng.

’n Interassante debat is die afgelope paar weke in die media gevoer oor die prysetiket wat deesdae om die nek van skole se matriekafskeidsgeleenthede gehang word.
Dit sluit natuurlik die duur uitrustings, voertuie, fotograwe, luukse venues en spyseniering in. Om nie eens te praat van al die vals aanhangsels (naels, hare én wimpers) wat deesdae saam met die “after party” by die begroting getel moet word nie.

Die hoof van ’n skool in Sasolburg — Iketsetseng Secondary School — het vonk aan die matriekdebat gegee nadat hy besluit het dat sy skool se matrieks hul matriekaand eerder in skooldrag moet bywoon.

Dié hoof, Eric Sedi, het tydens ’n mediaonderhoud gesê dit breek jaarliks sy hart as gr. 12-leerders van sy skool nie die geleentheid bywoon nie omdat hul gesinne bloot nie die geldelike vermoë het nie.

Sedi vertel dat hy jaarliks opmerk hoe die naderende spogaand spanning by matriekleerders uit agtergeblewe omstandighede veroor-saak. Dié leerders daag dikwels op om te kyk hoe hul matriekmaats met blink vere en mooi motors opdaag, maar hulle woon nie self die geleentheid by nie.

Dié skoolhoof het al in die begin van 2018 begin voorbrand maak vir sy “inklusiwiteitsplan” en volgens hom het dit mooipraat gekos, maar die ouers én die gr. 12-leerders het aan die hoek gebyt. Dit was blykbaar steeds ’n spogaand waartydens die Iketseng-matrieks getrakteer is. Die verskil was egter dat álmal dit kon bywoon.
Daar is al baie geskryf en gesê oor skole se matriekaande en die bui-tensporige prysetiket daaraan ver-bonde. Die land se ekonomie is onder druk en die geldstrop om ouers én skole se nekke trek al hoe stywer. Miskien het die tyd vir ander skoolhoofde ook aangebreek om ook standpunt in te neem.

Om met duur uitrustings weg te doen, is natuurlik nie die enigste oplossing tot die probleem nie.

By Hoërskool Namakwaland in Springbok is dit byvoorbeeld steeds ’n trotse tradisie om jaarliks die matriekafskeid in die skoolsaal te hou. Die saal word sprokiesmooi versier en buitensporige uitgawes word hok geslaan deur van ’n plaas-like spysenier gebruik te maak.

Maar die beste salf wat dalk aan dié matriekseer gesmeer kan word, word by die ouerhuis gemeng. Daar waar ’n fyn aanvoeling — of nie — gekweek word vir medeleerders se behoeftes. Sal dit nie wonderlik wees as daar in alle ouerhuise ’n gedragskode bestaan wat onder meer lui: In hierdie huis doen ons nié belaglike duur matriekuitrustings nie, bestee ons nié geld op alles wat “vals” is nie en is blink voertuie nié deel van ons status nie.

In skole waar leerders hierdie gedragskode teen hul harte dra, sal dit nie vir skoolhoofde nodig wees om die voet dwars neer te sit nie — die matrieks sal dit sommer self doen.

Related Articles

Back to top button