BlogsOpinion

Wanneer ‘die media’ selfs ‘die media’ onderkry

Die nuusmedia het ’n reuseverantwoordelikheid wat betref dit wat op sosiale media geskryf word. En dit het niks met vryheid van spraak te doen nie.

Sosiale media het die potensiaal om selfs gesoute mediamense onder te kry.

Facebook het ’n slagveld geword waar mense na hartelus fopnuus deel, rassehaat aanblaas en ander beledig.

Ongelukkig lyk dit al te veel asof sommige rolspelers in die mediabedryf dit geniet om die publiek toe te laat om mekaar op húlle bladsye te gryp en dan grynsend terugsit wanneer die klok lui vir die volgennde ronde.

Die Pos se Facebook-blad is hopelik nie vir ons lesers so ’n slagveld nie. Maar dit verg deeglike administrasie en oordeelkundige plasings om dit daar te hou. Boonop glo ons dat die platteland (waar mense mekaar nog in die supermark, op straat en in die kerk in die oë moet kyk) mense in ’n mate daarvan weerhou om té boefagtig op sosiale media te raak.

Mense is byvoorbeeld welkom om op hul eie bladsye te skryf hoe lelik iemand se trou- of matriekafskeidrok, nuwe chirurgiese prosedure of weelderige woonhuis is. Die Pos kan dit egter ongelukkig nie op óns blad toelaat nie. Ons dis nie onsmaaklike braaivleispraatjies aan ons lesers as nuus op nie.

Ons glo dat die nuusmedia ’n reuseverantwoordelikheid het wat betref dit wat op hul Facebook-bladsye geskryf word. En dit het niks met vryheid van spraak te doen nie. Dit het te doen met die idee dat jy vir mense toestemming gee om onder jóú naam op die podium te klim.

Sal jy byvoorbeeld toelaat dat iemand herhaaldelik swets, ander afkraak of sarkasties op jou privaat Facebook-blad raak? Of op jou sakeonderneming s’n? Nee. Maar hulle is welkom om dit op hul eie bladsye te doen.

’n Mens hoef nie die uitvinder van buskruit te wees om deesdae te voorspel watter opskrifte, vrae of berigte die sluiptikkers uit hul loopgrawe gaan laat peuel nie. Die vraag is net: Kan ’n sakeonderneming trots wees op sy blad waar dieselfde groepie mense (dikwels onder skuilname) aanhoudend kwaad stook en gal braak? Het dit nie dan tyd geword om jou produk weer mooi te bekyk nie?

Ongelukkig kan joernaliste nie self op ’n media-vas gaan nie, want ons moet bybly met wat in die nuus is. “Die nuus” is egter dikwels nie naastenby so verwoestend soos “die mense” se vryheid van spraak om daarop kommentaar te lewer, en “die media” se platform wat hulle daarvoor skep nie.

Related Articles

Back to top button