BlogsOpinion

Wie sit saam om die tafel?

As ’n mens voor dié skildery staan, wonder jy wie is die dissipels en wie is die verraaiers.

Ons land se eie Moederstad bly maar een van die mooiste wêreldstede.

Ek het dit weer besef toe ek die afgelope skoolvakansie die voorreg gehad het om ’n paar dae in Kaapstad oor te bly.

’n Besoek aan dié stad bied dieselfde medisyne as ’n reis ver oor die water.

Dit is net Kaapstad se natuurelemente wat ’n mens soms kan kierang. Dit het derhalwe oortuiging gekos toe ’n lid van ons familiegroep op ’n windstil dag voorstel dat ons die Zeitz MOCAA by die Victoria en Albert Waterfront (V&A) besoek. Binnenshuise besienswaardighede word onderaan die lys geplaas vir daardie winderige dae.

Wat is die Zeitz MOCAA? het sommige familielede ewe onthuts gevra.

Maar die familielid het haar nie van stryk laat bring nie en sy het geesdriftig vertel dat die Zeitz MOCAA die grootste kunsmuseum ter wêreld is waar kontemporêre Afrika-kuns permanent uitgestal word. MOCAA staan vir Museum of Contemporary Art Africa en Jochen Zeitz. Die projek is gefinansier deur V&A Waterfront.

’n Historiese landmerk, reusegraansilo’s wat in 1921 gebou is in die nywerheidsgebied van die ou Kaapse hawe, is ’n paar jaar gelede vir die projek geoormerk. Dié silo’s was vir baie jare een van die hoog-ste boustrukture in Afrika — 56 verdiepings hoog.

Argitekte het aan die werk gespring met die opdrag dat die buiteaansig van die gebou behoue moes bly, maar die binnekant verander moes word om voorsiening te maak vir ’n kunsgalery en hotel. Die eindresultaat is een van die wêreld se argitektoniese wonders.

Met dié agtergrondkennis het die familie besluit om die museum te besoek. ’n Keuse waaroor niemand — selfs nie eens die manlike familielede — spyt was nie. Daar is geen woorde om die argitektoniese wonderwerk of ombouing te beskryf nie.

En die kunsuitstalling het allermins teleurgestel.

Ek is besonder lief vir kontemporêre kuns en by uitstek religieuse kontemporêre kuns. Die Zimbabwiese kunstenaar Richard Mudariki se Passover (Pasga of Nagmaal of Avondmaal) met Robert Mugabe aan die hoof van die tafel het ’n blywende indruk op my gelaat.

Saam met hom aan die tafel is onder andere figure soos koningin Elizabeth, Gadafi, Jacob Zuma, die Pous, Nelson Mandela en Barack Obama. As ’n mens voor dié skildery staan, wonder jy wie is die dissipels en wie is die verraaiers.

Laatmiddag ry ons terug Strand toe na ons blyplek. Ons ry verby kilometers sinkhuisies en chemiese toilette wat naas dié huisies in rye staangemaak is. Die gesig van armoede.

En ek ek dink weer aan Mudariki se kunswerk. En ek wonder hoe ’n kunstenaar Suid-Afrika se Pasga sal skilder? Wie sou aan die hoof van die tafel sit? Wie is dissipels en wie is verraaiers?

Related Articles

Back to top button