BlogsOpinion

Hoofartikel: Geseënd is dié wat hande opsteek

Gemeenskapsbetrokkenheid is iets wat plattelanders van stedelinge onderskei.

Die skrywersegpaar Julienne du Toit en Chris Marais het onlangs ’n baie interessante boek oor die lewe op die platteland geskryf.

In Moving to the Platteland — Life in Small Town South Africa, vertel hulle van die wending wat hul lewens geneem het toe hulle besluit het om die vinnige baan vir die stadiger pas van Cradock in die Oos-Kaap te verruil.

Hulle gee handige wenke vir mense wat dié stap neem soos dat ’n mens gou die beste slagter moet uitsnuffel en maar verlief daarmee moet neem om “oom” en “tannie” genoem te word.

Gemeenskapsbetrokkenheid is iets wat plattelanders van stedelinge onderskei, het hulle ondervind.

“Dit help regtig baie as ’n dorp ’n kampvegter het. Op die platteland is dit weliswaar moontlik dat één persoon ’n verskil kan maak. Daardie persoon is gewoonlik soos ’n fakkel vir toerisme in die dorp; iemand met ’n passie om die plaaslike erfenis te herstel, wie se bloed kook wanneer daar rommel gestrooi word of die dorpe op enige manier afgekraak word.”

Hoeveel keer het ons by Die Pos nie al presies dít ook van die Waterberg ervaar nie? Dit kos net één geesdriftige mens met ’n omgee-hart om ’n Huis Tekna of Huis Talje op die been te bring. Om die Rotariërs se seën op die gemeenskap te laat neerdaal. Om duisende rande vir Kansa met een byeenkoms in te samel. Om ’n dienssentrum se deure oop te hou. Om die Abraham Kriel-kinderhuis se nood te verlig. Om ’n sportklub op die been te bring. Om ’n marathon te reël. Om ’n sakekamer doeltreffend te bestuur. En so kan ’n mens aangaan.

Plattelandse dorpies hou ’n groot bekoring in, maar word ook landwyd swaar getref deur ondoeltreffende bestuur, swak dienslewering, ekonomiese druk en werkloosheid.

Tog het Die Pos die afgelope ruk berig oor ’n paar dinge wat ons baie opgewonde gemaak het. Soos die vrywilligers van Aksie Opknap in Modimolle wat sorg dat die dorp se ingange en openbare ruimtes opgeruim en netjies gemaak word.

Ook op Vaalwater het inwoners, onder leiding van die dorp se burgemeester, die strate ingevaar en vullissakke nadergetrek en papiere in die strate opgetel.

Die Pos bring met dié skrywe hulde aan al die kampvegters in die Waterberg. Dit is nie altyd maklik om hand op te steek en te sê nie: “Ek sal dit doen.”

Sulke “handopstekertjies” is egter besig om man- en vroualleen wonderwerke te verrig. Geseënd is hulle, inderdaad.

Related Articles

Back to top button