BlogsOpinion

Hoofartikel: Wie kan ’n mens vertrou?

“’n Mens moet baie versigtig wees as jy iewers heen loop, want die jong mannetjies gebruik snaakse goed en dan sal hulle ’n mens sommer doodmaak.”

“Die drugs in die township is baie erg.”

Die vrou oorkant my se oë is vol vrees terwyl sy haar storie vertel.

“’n Mens moet baie versigtig wees as jy iewers heen loop, want die jong mannetjies gebruik snaakse goed en dan sal hulle ’n mens sommer doodmaak. En die polisie kyk anderpad.”

Ek vra haar of hulle anderpad kyk oor die “doodmaak”.

“Nee, hulle kyk anderpad vir die drugs, want die druglords betaal hulle baie geld om hulle oë toe te maak. As die polisie die township in die aand kom skoonmaak, is daardie druglord weg. Hulle weet. Die mense praat en sê dat die polisiemanne wat die geld kry, die druglords waarsku as die polisie op pad is. Al die mense in die township sê die polisie is corrupt. Dis ook nie net oor die drugs nie. Die polisie kry geld by ander mense ook.”

Ek probeer by haar uitvind wie die “ander” mense is.

“Mense wat verkeerde goed doen en dan betaal hulle die polisie om stil te bly. Ons trust nie meer die polisie nie.”

Ek probeer haar paai, sê vir haar ek dink darem nie hier op die platteland is die polisie so korrup as in die stede nie. Die gemeenskap is mos klein en hulle oë is oral. Maar ek sal probeer uitvind en ’n bietjie krap. As daar waarheid in steek, sal ons die feite in die koerant publiseer.

“Maar jy moenie vir iemand sê ek was hier by die koerant nie. Ons is bang. Ons mag nie praat nie. Ons gaan net werk toe en huis toe. Ons mag niks sien nie.”

Dit was twee weke gelede. Ek het nie weer van die vrou gehoor nie.

Ek was al op pad na my bestemming vir die langnaweek toe ek verlede Vrydag 21 September die WhatsApp-boodskap op my foon kry: Die Valke is by Bela-Bela-polisiekantoor. Drie polisiebeamptes is in hegtenis geneem weens beweerde klagte van korrupsie, ontvoering en gewapende roof.

Die reg moet nou sy loop neem om hulle skuld of onskuld te bewys, maar terwyl die vliegtuig opstyg, hoor ek weer die bang in die vrou se woorde.

Gedurende die naweek gaan doen ek ’n bietjie navorsing en vind uit dat baie mense vrees in hul oë het. Ek lees dat navorsing deur die Raad op Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) — bygestaan deur die South African Social Attitudes Survey (SASAS) — al in 2012 getoon het dat twee derdes van Suid-Afrikaners reken polisiebeamptes is die korrupste staatsamptenare.

Die postmoderne filosoof, Charles Taylor, glo dat ’n samelewing se sosiale weefsel sal uitrafel indien die gesagspilare verkrummel.
Ek wonder of mense ook vrees in my oë sien as ek praat oor die misdaad in ons land?

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button