BlogsOpinion

Hoofartikel: Om totsiens te sê

Kenners reken dat ’n mens deur ’n intense treurfase gaan wanneer jy moet afsien van goed wat vir jou spesiaal was.

Die Waterberg is as’t ware die tuiste van afgetredenes.

Ons spog met van die wonderlik-ste aftreeplekke in die land. Name wat gereeld in Die Pos opduik, is onder meer die Renaissance-aftree-oord, Negester Klein-Kariba-ontwikkeling en Warmbad Rusoord (almal in Bela-Bela), Modimolle se Kokanje-aftreeoord, Bosveldsig en Waterberg Dienssentrum vir Bejaardes en Mookgophong se Die Oog-aftre-oord en die Naboomspruit Lewensvreug Tuiste vir Bejaardes. En dan praat ’n mens nie eens van al die lieflike kleiner dorpshuise en huise op landgoedere in die omgewing waar ouer mense ’n laaste rusplek vir hul voet vind nie.

Ek glo dat wonings — net soos die lewe — in sirkels loop: as pasgetroudes is daar gewoonlik die piepklein studentewoonstelletjie. Dalk later ’n meenthuis met plek vir ’n troeteldier. Wanneer ’n mens kinders grootmaak, begeer jy ’n ruim huis met ’n swembad en genoeg speelplek vir die maats. Met die kinders uit die huis begin mense afskaal. Minder maak. En dan, teen die einde, is jy dikwels in ’n kamer met net een prent teen die muur en een gunstelingstoel. Dit is nie noodwendig vir my sleg nie, want teen die herfsjare weet mense gewoonlik dat aardse besittings jou nie definieer nie. Die volgende reis sal letterlik en figuurlik Lig wees.

Om af te skaal, in te pak, minder te maak, weg te gee, is iets wat soveel van ons lesers al moes doen. Kenners reken dat ’n mens deur ’n intense treurfase gaan wanneer jy moet afsien van goed wat vir jou spesiaal was.

“Kan ’n mens oor ’n asbak huil? Ja, ’n mens kan,” skryf FA Venter in sy boek “Die keer toe ek my naam vergeet het.”

“Hoe gaan ek die pragtige vlegsel van ons dogter, toe sy vyftien jaar oud was, weggooi? Of die afgietsel van die grootste leeuspoor wat nog in die Kalahari gevind is?” vra Venter.

Hier is baie pandjieswinkels, losgoedveilings en store vol stof in die Waterberg. Dit is plekke wat my opgewonde maak, maar ook droewig stem. Want elke ding wat daar is, het eens op ’n tyd vir iemand iets beteken. Iemand vir wie oppak, minder hê en kleiner leef waarskynlik aangemeld het.

Werk maar sag met ander se hartsgoed. Soms skuil daar ’n leeftyd se lééf in ’n tweedehandse porseleinkat, skildery of boek.

Related Articles

Back to top button