BlogsOpinion

Hoofartikel: Vanwaar al die padboewe?

Deesdae verg dit egter werklik selfbeheersing om nie self in ’n toeterende, vingerswaaiende, swetsende varkie op die N1-snelweg te ontaard nie.

Die afgelope jaar of wat is ek heelwat meer in my motor.

Waar die N1-snelweg altyd ’n plesier was (in vergelyking met die smal paadjie tussen Bela-Bela en Thabazimbi en die nagmerrieslaggate in Groblersdal en Lephalale se omgewing) lyk dit deesdae asof dié hoofroete elke padvark en jaagduiwel se speelplek geword het.

Ek het iewers gelees dat bevoorregte mense (diegene wat grootgeword het met ouers wat motors gehad het) ’n reusebestuursvoordeel het teenoor onbevoorregtes (diegene wie se ouers nie motors gehad het nie) omdat kinders van kleins af leer deur af te kyk by hul ouers. Kinders wat so te sê op die agtersitplekke grootword, ken dus al baie padreëls en het baie vaardighede onder die knie nog voordat hulle self agter ’n stuurwiel inskuif.

Dit het veroorsaak dat ek diep bewus geword het van die idee dat my kinders my dophou terwyl ek bestuur; daarom vertel ek hulle gewoonlik so in die ry waarom ek skielik rem trap, watter pad ek meen die beste is, hoe ek dink ons sekere verkeersknope kan vermy of ek vra of hulle weet of ek mag draai of ry — veral in spitsverkeer in die stad.

Deesdae verg dit egter werklik selfbeheersing om nie self in ’n toeterende, vingerswaaiende, swetsende varkie op die N1-snelweg te ontaard nie.

Dit is ongelooflik om te sien hoe die bestuurders van swaarvoertuie agteruit stoot wanneer hulle per ongeluk by ’n afrit verby is.

Vrydagaande, wanneer die verkeer besonder druk is, kruie die “vinnige baan” teen 110 km per uur aan terwyl jaagduiwels links hou en kort-kort indruk om deur die verkeer te vleg. Dit is niks vreemds om ewe skielik net stofwolke te ruik en klippe te sien trek soos wat ongeduldiges links van die verkeer op die grondpad laat waai nie. Pure kamikazi.

Hoe verskriklik om te lees dat drie motorryers die afgelope week teen onderskeidelik 174, 175 en ’n allemintige 191 km per uur deur snelstrikke is. En dan is een van hulle sowaar as vet nog agter die stuur van ’n muggie van ’n motor!

Die arme, arme passasiers wat aan dié idiote se bestuursvernuf blootgestel word.

Die arme mense wat hul jongmenskinders — dié wat nog nie so gekonfyt agter die stuurwiel is nie — op hierdie pad moet laat bestuur.

En die arme verkeerspolisie. Hulle is nie aldag hul lewens seker nie en word boonop baie keer onbeskof behandel wanneer hulle padboewe aankeer.

Related Articles

Back to top button