BlogsOpinion

Hoofartikel: Ek onthou hoe dit was

“Maar ek ken jou ... jy is mos ...”

Ek stap verlede week by ’n musiekwinkel in die stad in op soek na ’n dwarsfluit vir my dogter.

’n Jong meisie met lang hare en ’n skaam glimlag kom uit een van die kantore.

“Maar ek ken jou … jy is mos …” sukkel ek vir ’n oomblik om haar te plaas.

Sy sê wie se dogter sy is en skielik onthou ek baie dinge tegelyk.

Sy werk praktiese ure by die musiekwinkel, vertel sy, terwyl sy ook ander ysters in die vuur het.

Sy pak die fluite op die toonbank en verduidelik elkeen se waarde. Net anderdag nog was ék die Sondagskooljuffrou wat vir háár dinge verduidelik het.

Hoe klein is die wêreld? Hoe gou gaan die tyd verby? dink ek terwyl my dogter liefderik oor die instrument streel en die jong meisie toekyk.

Net anderdag nog was ek 16 en het ek bykans elke naweek in ’n bakkery in die destydse Pietersburg gewerk. Rooiwang voor die oonde van Mr Crusty in my rooi en wit bakkeryklere — teen R15 per skof, plus ’n gratis pastei en ’n gaskoeldrank.

As student het ek een vakansie by Unisa se registrasieafdeling gewerk. Honderde studente het in rye voor my glashokkie gedrom. Langs my, in haar eie hokkie, was ’n middeljarige blondine met wilde oë. Kort-kort het sy ’n groot sluk Bio-plus uit ’n bottel onder die toonbank gevat.

Ek het ook as ontvangsdame by United Bank se skakelbord gewerk en later ’n “verhoging” gekry na die kassiere-afdeling van die Sunnyside-tak, maar dáár het ek ongelukkig gedros. Die stres van die geldtellery terwyl ongeduldige kliënte hul vingers op die toonbank trommel, het my maag laat pyn.

Ek het ook een Paasnaweek by die Randse Paasskou se toegangshek gewerk. Aanhoudende rye mense wat oor en oor dieselfde grappies maak, totdat ek en my “hokkiemaat” later ’n klein plakkaat teen ons glasvenster opgeplak het wat lui: “No ticket jokes, please!”

En dan was daar nog die tandarts in Hatfield vir wie ek teen betaling perdewedrenboekies se wenners moes neerskryf om te kyk of daar ’n wentendens is.

Daar was nóg sulke werkies. Gawe (en minder gawe) mense wat my ’n geleentheid en ’n bietjie geld gebied het. Ek onthou hoe skaam ek was; hoe onkundig en soms, hoe desperaat vir werk en sakgeld.

Ek het ’n gróót plek in my hart vir jongmense wat ekstra werk vir sakgeld doen. Ek weet hoe dit is. Want dit voel asof ek net anderdag nog self daar was.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button