BlogsOpinion

’n Boodskap van liefde

Op die keper beskou was daar eintlik nooit ’n tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waar vroue nié voor groot uitdagings te staan gekom het nie.

“Vroue wat lede is van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) bak nie nét koeksisters en melktert nie; hulle maak ’n daadwerklike verskil in die lewens van honderde Suid-Afrikaners.”

Dit was die woorde van die seremoniemeester wat tydens Vrouedag op Donderdag 9 Augustus die program vir die vrouetee van die SAVF se tak in Bela-Bela gelei het.
Suid-Afrikaanse vroue kán heerlik bak, maar almal weet darem dat die einste vroue ook bekend is vir die murg in hul pype.

Die duisende vroue wat op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou gestap het, was ook ystervroue wat die weg gebaan het vir die totstandkoming van ’n meer gelyke same-lewing.

Op die keper beskou was daar eintlik nooit ’n tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waar vroue nié voor groot uitdagings te staan gekom het nie.

Dit is ook tans die geval in Suid-Afrika. Plaasmoorde, ’n hemelhoë misdaadsyfers en ’n ekonomie én onderwysstelsel wat wankel, is maar net ’n paar van die “berge” wat die moderne Suid-Afrikaanse vroue moet bestyg.

’n Mens kan bitter raak oor dié omstandighede in die land of ’n mens kan beter raak. Dit is die boodskap wat een van die sprekers tydens die SAVF se vrouetee, dr. Mariëtte Emslie, aan die gaste oorgedra het.

Emslie het op 20 September 2017 ’n plaasaanval op die gesin se plaas buite Lephalale oorleef. Haar man is tydens die aanval doodgeskiet en sy is in die rug gewond, wat haar gedeeltelik verlam gelaat het. Haar boodskap van hoop en liefde is ’n kleinood waaraan alle Suid-Afrikaners in hierdie onsekere tyd van die land se geskiedenis kan vasklou.

Buiten die feit dat sy geen bitterheid koester nie het sy onder meer ook die volgende raad aan mense in ’n krisissituasie gegee:

  • Moenie vra hoekom het ’n verskriklike tragedie oor jou pad gekom nie. Jy gaan nooit die antwoord kry nie. Vra eerder “hoekom nie ek nie?”.
  • Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, daar is altyd iemand wat slegter daaraan toe is.
  • Begin jou dag deur jou seëninge te tel. Maak nie saak hóé groot jou krisis is nie, daar is altyd iets om voor dankbaar te wees.
  • Daar is meer mense in die land wat liefde leef as dié wat haat. Daardie liefde het Emslie in die rehabilitasiesentrum, op haar herstelpad, ervaar waar verpleegpersoneel daagliks voor sonop van onder meer Hammanskraal tot in Pretoria met openbare vervoer gependel het, met ’n lied in die hart by die hospitaal opgedaag het en die pasiënte met die grootste liefde en geduld versorg het.

Emslie het haar boodskap afgesluit met die woorde van 1 Korintiërs 13: “En uiteindelik bly net geloof, hoop en liefde oor. En die grootste hiervan is die liefde.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button