BlogsOpinion

Hoofartikel: Blikstemme nie die antwoord

En dit is veral sakeverhoudinge wat deesdae skade ly omdat persoonlike kontak opsy staan vir die einste “maklike” en “vinnige” kommunikasiekanale.

Kommunikasie was nog nooit so maklik en vinnig soos deesdae die geval is nie — dit natuurlik te danke aan die feit dat tegnologie soos ’n hoëspoedtrein die toekoms insnel.

Hoe doeltreffend die mens in die postmoderne eeu kommunikeer, is debatteerbaar.

En dit is veral sakeverhoudinge wat deesdae skade ly omdat persoonlike kontak opsy staan vir die einste “maklike” en “vinnige” kommunikasiekanale.

Deesdae “sentraliseer” baie groot ondernemings hul dienste en persoonlike aandag het plek gemaak vir ’n blikstem op ’n telefoon wat jou deurskakel na ’n “operateur” — mits jy die regte knoppies druk.

Die Pos-span het die afgelope week skynbaar ál die “verkeerde” knoppies gedruk en eerstehands ervaar hoe onpersoonlik én ondoeltreffend “gesiglose” kommunikasie kán wees.

Die tegnologieduiwel was vir ’n dag of twee behoorlik los in die koerant se Bela-Bela-kantoor. Buiten die internet wat op Maandagmiddag 30 Julie soos ’n donkie vasgesteek het, het die telefone tienerstreke uitgehaal.

Gesels ’n mens met die “gesiglose” operateur, wat in diens van die lynverskaffer is, oor die probleem, word die vinger gerieflikheidshalwe na die “telefoonsisteem” gewys. Skakel ’n mens die verskaffer van die telefoonsisteem, deel ’n ander “gesiglose” mens jou mee dat die probleem beslis aan die kant van die lynverskaffer lê.
Dit het die koerant tussen die hemel en die diepblou see gelaat met geen oplossing op die horison nie.

Dit is egter nie net by die koerant waar die kommunikasie met groot sakeondernemings tot hoë vlakke van frustrasie lei nie. Lesers klop feitlik daagliks aan die koerant se deur oor hul ervarings met “blikstemme” in die bankwese, by selfoonmaatskappye, regeringskantore, lugrederye, reisburo’s ensovoorts.

Blikstemme en “gesiglose” mense kan nie persoonlike aandag gee nie, hulle neem ook nie persoonlik verantwoordelikheid om kliënte se probleme te hanteer nie.

Verbruikers begin weer waardering toon vir ’n persoonlike ervaring by sakeondernemings en veral plaaslike sakelui kan waardevolle lesse leer uit die onpersoonlike manier waarop baie sakeondernemings deesdae sake doen.

Hulle verlang na die dae toe ’n mens nog by ’n bankbestuurder se kantoor kon instap om jou geldsake onder die loep te plaas.

Vra maar enige kliënt: niks hou kers vas by daardie persoonlike kontak en daardie ekstra moeite wat ’n sakeonderneming se personeel bereid is om te doen nie.

Related Articles

Back to top button