BlogsOpinion

HOOFARTIKEL: Ons kan die geweld nie meer vat nie

“Sewe plaasaanvalle. Vier moorde. Een naweek.”

Suid-Afrikaners is só voos vir geweldsmisdaad dat ons soms soos verslane boksers in ons hoek van die kryt bly lê.

“Sewe plaasaanvalle. Vier moorde. Een naweek.” Dié boodskap het aan die begin van die week op verskeie mense se sosialemedia-profiele verskyn.

Hierdie stories haal gewoonlik net een week lank die hoofnuus. Daarna beleef die buitewêreld nie hoe oorlewendes die stukkies van hul lewens optel nie: gestrem, wees, tot die dood toe bevrees in die “veiligheid” van hul eie huise.

Die Pos het al vanjaar reeds oor die volgende berig:

  • Berdus Henrico, ’n plaasbestuurder van Melkrivier en sy verloofde, Estelle Nieuwenhuys, oorleef in Februarie ’n nagmerrieaanval nadat drie gewapende mans hulle in hul plaaswoning met ’n skroewedraaier, mes en ’n 9 mm-pistool aanval. Henrico word twee keer in die skou-er geskiet en in die wang gewond. Sy verloofde is skrams raakgeskiet.
  • Piet (70) en Magriet (66) Botes van Settlers oorleef einde Februarie ’n aanval deur ’n groep rowers wat op hul plaas toeslaan. Hulle druk ’n pistool teen Piet se kop en bind hom en sy vrou met draad en tou vas.
  • Die bejaarde Hennie en Marie Coertze word in Mei in hul plaas-huis op die Alma-pad buite Bela-Bela oorval, vasgebind en beroof.
  • Vier plaaswerkers van die wildsplaas Dieputten op die R516 na Marble Hall word in Mei deur vier verdagtes in hul sinkhuise aangeval. Een van die werkers word met ’n skerp voorwerp beseer terwyl twee van die rowers een van die vroue om die beurt verkrag.
  • Nicolene Human beleef in Mei ’n nagmerrie buite Vaalwater terwyl drie boewe by die plaashuis probeer inbreek waar sy en haar baba, Nicole, alleen tuis is.
  • Christo Janse van Vuuren (in sy sestigs) van Bela-Bela word in Mei by ’n vakansieoord op die Eersbewoondpad buite Bela-Bela deur ’n groep rowers by sy karavaan aangeval en met ’n mes gesteek.
  • Dr. Lesley van Niekerk (63), afgetrede veearts word in Junie op ’n plaas buite Modimolle deur gewapende mans oorval en in die maag geskiet.

Wetsgehoorsame Suid-Afrikaners — of hulle op plase, in dorpe en stede of in sinkhuise woon — het nie nou nuwe straatname nodig nie. Hulle gee nie om wát die lughawens se name is nie. Hulle is nie lus om te luister na nuwe onderwys-, mediese fonds- of grondonteieningsplanne nie.

Hulle het ’n regering nodig wat opstaan en sê: Ons sal hierdie geweld nie een oomblik langer duld nie.

Related Articles

Back to top button