BlogsOpinion

Hoofartikel: Dit laat ’n mens nederig voel

Lekota as mens én die inhoud van sy toespraak het Die Pos-span beïndruk.

Die deurwinterde politikus en president van die politieke party Cope, Mosiuoa Lekota, het verlede week sakelui by die Waterberg-sakekamer se maandvergadering toegespreek.

Die Pos-bestuur het hul warm baadjies aangetrek en dié byeenkoms by Castle de Wildt buite Modimolle op Donderdag 14 Junie bygewoon.

Dit was nie net ’n geleentheid om met sakemense in Modimolle te netwerk nie, maar ook ’n voorreg om deur die lens van ’n gerespekteerde politikus te kyk na sake soos onder meer grondhervorming.

Lekota as mens én die inhoud van sy toespraak het Die Pos-span beïndruk. Maar ’n mens moet ook ’n veer in die hoed van die Waterberg-sakekamer plaas.

Dit was tydens die vergadering duidelik dat dié instansie se bestuur onder leiding van Wiets Botes ’n reusetaak verrig om inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit by te staan in die krisis wat dié munisipaliteit tans in die gesig staar. Eskom dreig om die munisipaliteit se krag vir groot dele van die dag te sny weens ’n agterstallige kragrekening. ’n Stap wat talle sakeondernemings heel waarskynlik lam sal lê.

In dié kolom lewer Die Pos se redaksiespan gewoonlik kommentaar op politieke gebeure en ander aktuele sake. In hierdie uitgawe wil ons egter so ’n bietjie afwyk van die gebaande weë en pleks van kommentaar lewer, ons persoonlike indrukke van die vergadering en Lekota se toespraak met die lesers deel:

  • Dit was bemoedigend om te weet dat daar nog sakekamers is wat “waak en bid”. Hul waak oor die dorp se belange, maar dit was ook wonderlik om met die oorwinningslied, onder leiding van die sanger Franna Benadé, die aand te kon open.
  • Lekota het ongeveer 80% van sy toespraak in die mooiste, idiomatiese Afrikaans gelewer. Volgens die internetbron Wikipedia praat hy ook Engels, Tswana, Sotho, Xhosa en Zoeloe vlot.
  • Lekota was tydens die apartheidsbewind agt jaar ’n gevangene op Robbeneiland. Dit is egter opvallend dat hy geen bitterheid koester nie. Inteendeel, hy praat van “ons” land en “ons” grondwet en “ons” mense. Daar bestaan duidelik nie “julle” in sy woordeskat nie.
  • Lekota is net so bekommerd oor die geluide uit ANC-geledere om eiendom sonder vergoeding te onteien soos boere en sakelui in die Waterberg-streek.
  • Dit is duidelik dat Lekota diep gelowig is en sy toespraak was deurspek met verwysings en aanhalings uit die Woord.

Teen die einde van die aand het dié politikus se gesindheid, integriteit en waardes ons met nederigheid gevul.

Related Articles

Back to top button