BlogsOpinion

Hoofartikel: Skep moed (en drink saam koffie!)

Ons bejammer onsself so ’n bietjie oor die ongenaakbaarheid van sosiale media. Oor hoe maklik “swartsmeerdery” deesdae geword het

Die Pos se hoofbestuur gaan drink dié week koffie by een van ons gerespekteerde sakemanne in die omgewing.

’n Wyse man wat jare lank al ’n groot skip op die water hou.

“Dit gaan swaar met die Waterbergers; dit is nie maklik om ’n sakeonderneming te bedryf nie,” stem ons saam.

Ons bejammer onsself so ’n bietjie oor die ongenaakbaarheid van sosiale media. Oor hoe maklik “swartsmeerdery” deesdae geword het. Oor hoe flink mense se vingers op ’n toetsbord kan flits om ander sleg te sê.

“Maar ek glo in kurwes. Ek glo Suid-Afrika is by ’n draaipunt en ons is op pad boontoe,” reken die sakeman. Hy gee ’n paar redes, dinge wat hy in sy bedryf ervaar, geluide uit die sakewêreld. En ons skep moed.

Later die week kom drink die hoofbestuur van ’n bekende liefdadigheidsorganisasie weer by óns koffie. “Ons is so jammer oor die donkerte in ons kantore,” maak ons verskoning, “en vir die feit dat ons nie kan koffiewater kook nie”. Die Bela-Bela-munisipaliteit het ’n kabel raakgekap tydens instandhoudingswerk en ’n groot deel van die sakegemeenskap vir bykans ’n hele werkdag sonder krag gelaat. Ons sit in die skemer kantoor om ’n houttafel en luister na die gedreun van kragopwekkers oral in die straat.

“Dit gaan swaar met die Waterbergers; dit is nie maklik om ’n liefdadigheidsinstansie te bedryf nie,” stem ons saam.

Ons praat oor staatsubsidies wat nie betaal word nie. Oor mense wat nie meer fondsinsamelings wil bywoon nie omdat die geldsake knyp. Oor die naderende winter. Oor Eskom wat dreig om Modimolle, Mookgophong en Vaalwater se krag af te sit.

“Maar daar is nog soveel goeie mense hier; soveel wat omgee,” sê die vrou van die liefdadigheidsin-stansie. Sy vertel van mense se dankbaarheid; van die verligting wat mense danksy ander se omgee ervaar. En ons skep moed.

Sakelui moet dit meer gereeld doen, sê ons by Die Pos vir mekaar aan die einde van hierdie week: By mekaar gaan kuier. Mekaar moed inpraat. Gedagtes ruil. Sommer net koffie drink — selfs al is daar nie eens krag om die water te kook nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button