BlogsOpinion

Uit twee monde

’n Mens wonder soms of sekere politieke leiers weet aan watter kant van die veld hul eie doelpale is.

Uiteenlopende beleidsrigtings en politici wat nie uit dieselfde mond praat nie, veroorsaak deesdae dat Suid-Afrikaanse burgers nie meer ’n idee het hoe die spelreëls op die politieke speelveld toegepas word nie.

Politici het deur die eeue nog nooit eintlik ag geslaan op spelreëls nie, maar die spel kon darem nog altyd binne ’n sekere raamwerk voortgespeel word.

’n Mens wonder soms of sekere politieke leiers weet aan watter kant van die veld hul eie doelpale is.

’n Goeie voorbeeld is die verskillende standpunte en uitlatings van ANC-leiers in die debat wat handel oor die voorgestelde wysiging aan die Grondwet wat handel oor grond-onteiening.

Aan die een kant sê die ANC-president, Cyril Ramaphosa, dat grondonteiening binne die raamwerk van die wet sal geskied en dit mag nie ekonomiese groei en voedselsekerheid bedreig nie.

Aan die ander kant is daar ministers in dieselfde regering wie se uitlatings oor grondonteiening meer radikaal is en tot groot onrus onder kommersiële boere lei.

En nou fluit die ANC ná die grond-beraad in Boksburg die afgelope naweek ’n heel ander deuntjie deur te kenne te gee dat dit dalk glad nie nodig is om art. 25 van die Grondwet te wysig nie omdat dié klousule reeds aan die regering die reg gee om grond sonder vergoeding te onteien.

Intussen is Suid-Afrikaners in die duister gehul oor die werklike rigting wat die regering inslaan oor grondonteiening en ander sake en die ANC verkies om hul kaarte styf teen die bors te hou.

Plaaslike regerings het dikwels, net soos in die geval van die nasionale regering, ’n gebrek aan rigting en ly in gebreke om belastingbetalers op die hoogte van sake te hou.

Die Eskom-krisis wat tans in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit heers, is ’n goeie voorbeeld.

Inwoners moet dikwels deur dié dorpe se sakekamers of deur die media of selfs derdehands verneem wat die toedrag van sake is.

Miskien moet politieke partye in meer effektiewe skakelafdelings belê. En in dié verband kan hul gerus by instansies soos AfriForum en Solidariteit gaan aanklop. Húlle het die kuns van kommunikasie vervol-maak en hou lede, die media en Suid-Afrikaners voortdurend op die hoogte van hul sake en hulle praat uit een mond. Hulle sorg dat hulle op almal se lippe is — of jy nou vriend of vyand is.


For free daily local news in the Waterberg, visit Die Pos/The Post.

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages. You can also email our offices on diepos@icon.co.za or dieposnuus@icon.co.za


 

Related Articles

Back to top button