NewsSchools

Vandale ontsier skool se hoofingang

Die gesig wat onderwysers, ouers, leerders en inwoners op Maandag, 22 Julie begroet het by Hoërskool Warmbad se hoofingang, was skokkend.

Gedurende Sondagnag is daar onsmaaklike graffiti teen die mure van die ingang by die skool aangebring. Verskeie padtekens in die skool se omgewing het ook deurgeloop onder die spuitverf. Die elektriese verdeelkas in Swanepoelstraat, wat munisipale eiendom is, is ook ontsier met graffiti.

Die NG Warmbad Wes-gemeente wat na aan die skool is, in Gilfillanstraat, se kennisgewingbord is beskadig en onooglike spuitverf is ook daar aangebring.

Die beweringe dat matriekleerders verbonde aan Hoërskool Warmbad vir hierdie vandalisme verantwoordelik was, word tans ondersoek. Hierdie ‘aanval’ op die skoolterrein, asook die ander voorvalle van saakbeskadiging wat in die dorp voorgekom het, hou waarskynlik verband met die viering van die skool se ’40-dae’-geleentheid.

Sosiale media was aan die gons toe fotos van die saakbeskadiging die rondte gedoen het, en meeste mense was dit eens dat hierdie daad in swak smaak val en heeltemal onaanvaarbare gedrag is.

Op die Bela-Bela DA Facebook-groep waar die fotos gedeel is, het die volgende opmerkings die oorheersende gevoel van inwoners en ouers weerspieël:

Engeline Gericke – Pret is pret, maar vandalisme is nie pret nie. HOE is dit dat ons kinders dit nie weet nie?

Cecile Greeff – Opvoeding begin by die huis en dit is waar die probleem lê.

Lizl Jacobs – Dit gaan nie net oor swak gedrag nie. Wie gaan die koste vir die herstel wat die skool en kerk moet dra?

Amanda Kuns – Die belhamels moet gestraf word, nie al die matrieks was aandadig nie.

Mintha Botes – Vind uit wie hierdie ongepoetste kinders is en laat hulle toesluit.

Louis Cilliers, skoolhoof van Hoërskool Warmbad, het aan Die Pos gesê dat daar in 2023, R45 000 se skade by die skool aangerig is tydens die 40-dae-geleentheid, en dat hy vanjaar uitdruklik, op verskeie geleenthede enige soortgelyke optrede verbied het.

Hy het dit duidelik gemaak dat geen 40-dae-vieringe hierdie jaar gehou mag word nie. Hy het ook bevestig dat Bela-Bela polisie gevalle van opsetlike saakbeskadiging ondersoek.

Ná ’n ondersoek by die skool het dit aan die lig gekom dat daar tans nege matriekleerders by die voorval betrek word. Hul name mag nog nie bekend gemaak word nie omdat die ondersoek voortduur.

Die skool het nog nie deur al die beskikbare beeldmateriaal wat deur sekuriteitskameras op die terrein en elders vasgelê is, gewerk nie.

Die leerders wat betrek is, is onmiddellik vir vyf skooldae geskors, en daar sal na afloop van die ondersoek, ’n amptelike verhoor gehou word. Hy sê Hoërskool Warmbad streef daarna om

karakter by hul leerders te bou, en hierdie gedrag is heeltemal onaanvaarbaar.

“Dit is jammer dat so ’n klein handjie vol leerders, die beeld van die skool in geheel geskaad het. Ek wil dit onomwonde stel dat hierdie leerders wat by die saak betrek word, ’n verkeerde keuse gemaak het. Hulle onaanvaarbare gedrag moet nie reflekteer op die skool as ’n geheel nie,” het Cilliers gesê.

Related Articles

Back to top button