Editor's choiceSchools

Limpopo-redenaars beïndruk met taal

Die nasionale ATKV-redenaarskompetisie het sy hoogtepunt in Limpopo op Woensdag, 22 Mei bereik met die semi-finale ronde wat by Hoërskool Nylstroom (Modimolle) aangebied is.

Die organiseerder van hierdie dag, wat seepglad en professioneel verloop het, was Alida van Heerden, bygestaan deur goedopgeleide volwasse – en leerderbeamptes.

Die deelnemers, afkomstig van verskeie laer- en hoërskole, het hulself reeds vroeër in die Noordelike – en Suidelike-streekrondes onderskei. Tydens hierdie semi-finale ronde het sprekers nou teen mekaar meegeding om te bepaal watter twee sprekers (reeds bekend) in elk van die 11 kategorieë, ons provinsie gaan verteenwoordig tydens die landwye kompetisie wat op Maandag 12 en Dinsdag 13 Augustus, by ATKV Klein Kariba-vakansieoord buite Bela-Bela, aangebied word.

Isebelle de Beer, puik redenaar van Hoërskool Hans Strijdom, Mookgophong, het in beide die voorbereide en onvoorbereide afdelings gekwalifiseer om vir Limpopo aan die nasionale ronde van die ATKV-redenaarskompetisie deel te neem.
Muhammad Essop, ’n gr. 12-leerder aan die Hoërskool Nylstroom, is derde in die onvoorbereide afdeling vir Afrikaans eerste addisionele taal tydens die ATKV-semifinale. Hy is ’n reserwe vir die finale ronde.

Isebelle de Beer, puik redenaar van Hoërskool Hans Strijdom, Mookgophong, het in beide die voorbereide en onvoorbereide afdelings gekwalifiseer om vir Limpopo aan die nasionale ATKV-redenaarskompetisie deel te neem. Die ander Limpopo-deelnemers uit ons streek is: Leahnique van der Schyff (gr. 1-3 van Laerskool Ellisras); Busisa Mashego (gr. 6-7 van Laerskool Ellisras); Treasure Olowalafe (gr. 8-9 van Hoërskool Piet Potgieter); Pieter van Heerden (gr. 10-12 van Hoërskool Nylstroom) en Katlego Phasha (gr. 10-12 van Hoërskool Piet Potgieter).

Een van die bekwame beoordelaars het aanDie Pos die proses van deelname verduidelik.

Die sprekers begin jaarliks in Oktober met hul voorbereiding wanneer die ATKV die temas aankondig.

Marli Broodryk, ’n gr. 11-leerder aan Hoërskool Nylstroom, was die beste gr. 11-meisie tydens die ATKV-redenaars se semi-finale. Sy het ’n tiende plek gekry in die voorbereide-afdeling vir Afrikaans Huistaal vir gr. 10 tot 12 leerders.

Deelnemers van gr. 1 – gr. 12 word dan uitgenooi om deel te neem en onderwysers en kundiges staan behoorlik bont om riglyne en raad aan die deelnemers te gee. Ouers en deelnemers steek ook voelers vir hulp uit na familielede, vriende of kennisse met bewese skryftalent, want die kompetisie is straf! Tot selfoonvideo’s word ingespan om vir Ouboet of Kleinsus ’n paar nuttige wenke te gee om hul tegniek te verbeter en relevante inligting oor te dra. Almal weet tog dat twee (of meer) koppe nog altyd beter is as een.

Die temas wissel jaarliks van eenvoudige begrippe soos teken, sprokies en oorlosie (gr. 1-3) tot komplekse konsepte soos paradoks, metafoor en visie (gr. 10-12).

Pieter van Heerden, ’n gr. 12-leerder aan die Hoërskool Nylstroom het ’n tweede plek behaal in die onvoorbereide-afdeling in die ATKV-redenaars en is deur na die nasionale finale ronde wat op 12 en 13 Augustus by die Klein Kariba-vakansieoord aangebied word. Hy het ook ’n sesde plek n die voorbereide-afdeling behaal.

In die voorbereide afdeling moet deelnemers ’n beredeneerbare onderwerp uit een van die drie temas formuleer. Sommige deelnemers verkies om aan die onvoorbereide afdeling deel te neem. In hierdie afdeling moet hulle ’n volwaardige toespraak onder toesig in ’n sekere tyd skryf en dan lewer.

Die beoordelaars is uitstekend opgeleide en ervare taalkundiges, skrywers, afrigters, onderwysers of dramaskool-bestuurders.

Hulle almal is by uitstek kultuurmense met ’n sagte plekkie vir jongmense. Wat meer is, is dat hulle die missie van die ATKV onderskryf wat daarop gemik is om aan sprekers van alle taalgroepe die platvorm te bied om met selfvertroue in Afrikaans te kan kommunikeer en redeneer.

Ons visie is dat hierdie geleentheid nog vir jare deel van die Limpopo–skoolkalender sal wees!

Related Articles

Back to top button