Schools

Klas van 1964 herdenk hul skooljare

Die vreugdevure het hoog gebrand toe 17 oud-leerders van Hoërskool Warmbad op Woensdag, 8 Mei hul 60ste reünie by die skool gevier het.

Hierdie mylpaal is met ’n glans byeenkoms gedenk, en die hoof, Louis Cilliers, het die klas van 1964 vriendelik verwelkom by hul ou alma mater, Hoërskool Warmbad.

Die hoofmeisie van die meisieskoshuis destyds, Joy van Oudshoorn (neè Eckardt), asook oud-leerlingraadslede was teenwoordig.Van Oudshoorn het vertel hoe die erekode en waardes wat by Hoërskool Warmbad geleer is, hulle die wêreld in gedra het.

Sy het genoem dat die klas van 1964 ’n verskeidenheid uitblinkers opgelewer het, wat hul merk in verskeie studierigtings gemaak het, soos onderwys, aptekerswese, boerdery, bekende stoeterye, ouditeurs, eiendomsagente, analitiese laboratorium tegnici en daar is selfs ’n politikus wat haar tans in Maleisië bevind.

Die Klas van 1964 word verwelkom by Hoërskool Warmbad.

Sy het bygevoeg dat die 1964-matriekgroep se kinders en kleinkinders ook uitsonderlik presteer. Chris Coetzer, bekende Suid-Afrikaanse sanger, en voormalige lid van Die 3 Tenore-sanggroep (saam met Jannie Moolman en Phillip Kotze), se moeder Daisy (Stoffie) Coetzer (neè Bekker), is een van die oud-leerders wat saam kom kuier het.

Chris Coetzer is een van twee spruite wat opspraak gemaak het in die musiekbedryf. Die ander is die bekende operasangeres, Vera-Marie Willemse wat die dogter van Anton Meyer van die 1964 klas is.

Die oud-leerders het die besonder mooi skoollied saam met Chris uit volle bors gesing en die Warrie-trots self weer gevoel. Ná afloop van ’n heerlike saam kuier in die skool se personeelkamer, het die groep ‘n nostalgies toer deur die skoolterrein en sportvelde onderneem.

Vier oud-eerstespan rugbyspelers, John du Toit, Ietie van Schalkwyk, Anton Meyer en Kobus Wentzel, het goeie herinneringe onder die rugbypale opgeroep, en Daisy Coetzer, het weer haar plek op die wegspringpunt ingeneem waar sy as naelloper, soveel jare gelede, naam gemaak het as een van die skool se topatlete. Emosies was vlak, en kort-kort het iemand ‘n traan weggepink.

Wat die geleentheid nog meer spesiaal gemaak het, is die feit dat ses van hierdie oud-leerders in 1947 gebore is, wat hul dus net so oud maak soos Hoërskool Warmbad wat ook in hierdie jaar tot stand gekom het.

Ná die besoek aan die skool, is die klas van ’64, na Coetzer se woning op Bospoort, waar hy hulle verder getrakteer het. Coetzer is vol lof vir sy moeder se generasie, en het dit as ’n buitengewone groot eer beskou om die dag vir die oud-leerders baie spesiaal te maak.

Fotoskyfies uit die groep se skooldae het nog dieper herinneringe opgetower. Daar is ook met heimweë gedink aan klasmaats wat nie die geleentheid kon bywoon nie.

Die groep het aan die einde van die aand onderneem om mekaar weer tydens hul 70 jarige herdenking te sien.

Related Articles

Back to top button