Schools

Nuwe sokkies uitgedeel

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het twee matriekleerders wat besluit het om uit dankbaarheid vir hul sukses ’n weldaad aan ander leerders te bewys.

Thuto Monama en Kelebogile Masilela het besluit om hulle harte en beursies oop te maak en te sorg dat die leerders by Laerskool Eugene N Marais, in die dorp, die nuwe skooljaar met splinternuwe skoolsokkies kan begin. Hulle het op Dinsdag 23 Januarie die laerskool besoek en 100 pare sokkies aan die seuns uitgedeel.

“Thuto het ’n besondere passie om mense te help en het dit goed gedink om die leerders van sy alma mater by te staan. Hy was ook in Laerskool Eugene N. Marais en het gevoel dat ons skool goed was vir hom in tye van nood,” het die skool op hulle Faceboekblad geskryf.

“Ons is jou ewig dankbaar Thuto,” het een van die skool se onderwysers op die welwillendheidsgebaar gereageer.

Thuto het in 2022, toe hy in gr. 10 was, ’n onderneming begin. Hy het sy diens aan onderwysers aangebied en het hul klasse op ’n gereelde basis skoongemaak. Gou daarna het hy sy sakeonderneming uitgebrei en ’n mobiele karwas begin. Hy het aan Die Pos gesê dat hy voel die Here seën hom so baie dat hy besluit het om terug te ploeg in die jeug en daarom het hy die skoolkouse gekoop.

“Ons het reeds verlede jaar Maart begin beplan om terug te gee aan die gemeenskap wat ons ondersteun. Ons het besef dat ons nou ’n stabiele inkomste het en ons kan uit dankbaarheid iets vir ander gee,” het hy gesê.

Kelebogile is nie net een van sy vriende nie, maar ook ’n vennoot in die onderneming.

“Ons droom is om ons onderneming so uit te brei dat ons jaarliks die projek kan doen en hoop om later selfs skoolskoene te kan voorsien aan die leerders wat dit nodig het,” het Thuto gesê.

Related Articles

Back to top button