Schools

Heidi aan die stuur by Eden

Die Eden Christian Academy in Bela-Bela het onlangs vir Heidi Buhner, as bestuurder aangestel.

Hierdie dinamiese vrou met ’n diep passie vir onderwys en die ontwikkeling van Christelike waardes het nie net die amptelike leisels van die skool oorgeneem nie, maar ook ’n persoonlike droom en werksplan saam met die vorige eienaar, Mignon van der Merwe, verwesenlik. Die oorgang na die pos van bestuurder by Eden is ’n groot stap vir haar, maar ook vir die uitbou van Eden Skool.

Heidi vertel dat haar posisie as bestuurder by Eden Christian Academy ’n geskenk van God is, wat nou in werking gestel is.

Heidi Buhner, die nuwe bestuurder vir Eden Christian Academy.

Hierdie samespel van visies tussen die vorige en huidige leier hou belofte in dat Eden tot nuwe hoogtes gaan reik.

Heidi noem dat vir haar as skoolbestuurder is die interaksie met die leerders baie lekker, maar ook noodsaaklik. Sy sê dit hou haar in voeling met die gemeenskap en sy geniet die eerlike wyse waarop kleuters hul uitdruk en die interessante wyses waarop tieners redeneer.

Heidi het groot waardering vir die etos van die skool en wat Eden Christian Academy so uniek maak. Dit is nie bloot ’n skool nie, maar ’n instelling waar elke onderwyser en leerder daarna streef om God se wil uit te leef. Die fokus op die ontwikkeling van Christelike waardes en ’n begrip vir elke kind se uniekheid maak Eden ’n omgewing waarin leerders nie net akademies onderrig word nie, maar ook emosioneel leiding kry.

Met ’n oog op die toekoms het Heidi ’n helder visie vir Eden. Sy wil die leerders reeds van grondslagfase voorberei vir die toekoms en as individue hul plek in die samelewing met trots kan vervul. Haar korttermyn doelwit is om elke dag met vreugde te benader en die skool te laat groei.

Agter elke suksesvolle leier is daar ’n sterk ondersteuningsnetwerk. Heidi deel dat sy die trotse ma van twee pragtige dogters is. Haar dogters is reeds afgestudeer en beoefen suksesvolle beroepe as ’n mediabestuurder en grondslagfase onderwyser. Haar ouers ondersteun haar baie en haar oupa, wat in 2008 oorlede is, was ’n besondere anker en het haar aangemoedig om onwrikbaar by haar norme en waardes te staan.

“Haar passie, visie, en toewyding aan die ontwikkeling van elke kind maak haar nie net ’n leier nie, maar ’n inspirasie vir die gemeenskap,” het ’n kollega gesê.

Related Articles

Back to top button