Schools

Waterberg CVO matrikulante spog met 100% slaagsyfer

Vir Dian Nel, Roedolf Schoeman, Mia Bosch, Lee-Ann Ellis en Zelmia Smit van die Waterbergskool vir CVO in Modimolle is hul skoolloopbaan nou iets van die verlede.

Die vreugdevure het Woensdag 17 Januarie sommer hoog gebrand nadat dié vyf matriekleerders die nuus gekry het dat hulle met ’n 100% slaagsyfer spog en altesaam vyf onderskeidings in die sak kan steek. Die CVO-skole het die onafhanklike eksamenraad (IEB) eksamen geskryf.

Zelmia Smit het 93% vir ingenieursgrafika- en ontwerp (IGO) behaal. Sy is genooi na die BCVO-skole se glansgeleentheid wat op Saterdag, 20 Januarie by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasvind.

Die skoolhoof, Rudie Fourie, het die leerders gelukgewens met hul 100% slaagsyfer.

“Alle dank aan ons Hemelse Vader en die onderwysers wat hulle gelei het van gr. 1 tot in hul matriekjaar.”

Volgens die skool het die onafhanklike eksamenraad (IEB) ’n algehele slaagsyfer van 98,46% in die 2023 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens behaal. Die IEB-slaagsyfer is vanjaar effens hoër as die 2022-slaagsyfer van 98,42%.

Daar het 88,59% van die leerders wat hierdie eksamen geskryf het, toetrede tot graadstudies behaal, vergeleke met 89,32% in 2022. Die getal van diegene wat kwalifiseer vir toelating tot diploma studie het van 7,52% in 2022 tot 8,31% toegeneem, terwyl die getal leerders wat toelating tot studie op die Hoër Sertifikaat-vlak behaal het op 1,57% bly.

Related Articles

Back to top button