Schools

Nylie-matrieks presteer weer goed

Ná ’n jaar se harde werk, kon die matrieks van Hoërskool Nylstroom die soet vrugte van goeie uitslae pluk.

“Ons is baie trots op wat hierdie groep reggekry het en ook baie dankbaar dat ons slaagsyfer min of meer dieselfde gebly het, ten spyte van moeilike omstandighede,” het die hoof, Anton du Plessis, gesê.

Die skool spog met ’n slaagsyfer van 97,2% (teenoor verlede jaar se 97,7%) met 140 leerders wat geslaag het. Daar het 57,14% van die leerders vrystelling vir Baccalaureus-studies en 33,57% vir diplomastudies gekry.

Kalista Toet het vier onderskeidings verwerf.

Die topmatrikulant, Honey Tohebo, het ses onderskeidings verwerf ten spyte van uitdagende vakke. Sy het meer as 80% vir Afrikaans Addisionele Taal, wiskunde, inligtingstegnologie, lewenswetenskap, fisiese wetenskap en lewensoriëntering gekry. Haar gemiddeld was 84,1%. Honey wil graag medies gaan studeer en wag om te hoor of sy wel keuring sal kry. Andersins sal sy haar in ’n rekenaarprogrammerings rigting bekwaam.

Mia Kirsten het vier onderskeidings behaal in Engels Eerste Addisionele Taal, inligtingstegnologie, rekeningkunde en lewensoriëntering met ’n gemiddeld van 80,9%. Sy beplan om vanjaar vir ’n BSc-graad in wiskundige wetenskappe by Akademia in te skryf.

Mia Kirsten het vier onderskeidings behaal.

Kalista Toet het ook vier onderskeidings in die sak vir Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, rekenaartoepassingstegnologie en lewenswetenskap. Sy gaan vanjaar medies aan die Universiteit van Limpopo studeer.

Lindi Loots, een van die matrieks wat die hoogste gemiddeld behaal het met 80,7%, hoop dat ’n hermerk vir haar die ondeskei- dings in die sak gaan bring. Sy het onderskeidings in rekeningkunde en lewensoriëntering, maar 79% vir vier van haar vakke en 78% vir nog ’n vak behaal.

Die leerders het altesaam 63 A-simbole bymekaar (teenoor 51 die vorige jaar) gemaak en 152 B-simbole.

Die vakke waarin ’n 100% slaagsyfer behaal is, is Afrikaans Huistaal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Engels Eerste Addisionele Taal, Sepedi Eerste Addisionele Taal, wiskunde, tegniese wiskunde, lewensoriëntering, rekenaartoepassingtegnologie, inligtingstegnologie, fisiese wetenskap, toerisme, elektriese tegnologie, siviele tegnologie en gasvryheidstudies.

Related Articles

Back to top button