Schools

Aftrede wink vir geliefde CVO-hoof

Ná vyf jaar aan die stuur van die Waterbergskool vir CVO in Modimolle, oorhandig Retha Prinsloo die leisels aan ’n nuwe skoolhoof.

Die tyd vir ’n nuwe hoofstuk het aangebreek en Prinsloo, wat reeds in haar sestigs is, sê sy sien uit na haar aftrede. “Ek is baie lief vir die kinders en ek gaan hulle én die skool mis!” het sy gesê.

“Omdat ons klasse klein is bou mens ’n hegte band met die kinders.”

Dit was vir haar lekker om te sien hoe die skool, wat 29 jaar gelede gevestig is, ontwikkel en groei.

“Die skool is by Umalusi (Council of Quality Assurance in General and Further Education and Training) geakkrediteer en gee kwaliteit onderrig. Van gr. 10 af skryf die leerders die onafhanklike eksamenraad (IEB) se eksamens. Ons kleuterskool is ook weer volstoom aan die gang en gedurende vakansietye is daar ’n nuwe juffrou wat na die kleuters omsien,” het sy gesê.

Prinsloo en haar man Johan was ook betrokke by die vestiging van die Hardekool Akademie vir CVO in Lephalale.

“My man was die hoof en ek was die sekretaresse. Dit was heerlik om deel te wees van daardie projek!”

Sy glo dat ’n skoolhoof se verhouding met hul personeel, die leerders en die ouers baie belangrik is vir ’n skool om suksesvol te wees. Ek, as hoof geniet dit om daagliks met die mees begaafde onderwysers en leerders te werk. Wat ’n voorreg.

“Die kinders het so mooi afskeid van my geneem, ek moes omtrent trane afvee,” vertel sy.

Elke kind het ’n plantjie gebring en vir haar erewag gestaan. Sy het ook die geleentheid gekry om vir oulaas die skoolklok te lui.

Haar planne vir 2024 sluit in om soveel moontlik tyd saam met haar 11 kleinkinders te spandeer en aan haar stokperdjies wat naaldwerk, borduurwerk, tuinmaak en kuns insluit, meer aandag te gee.

“Ek is ’n aktiewe lid van die Vroue Landbou-unie se Olien-aandtak en sien uit daarna om meer deel te neem aan die kompetisies,” het sy gesê.

Rudi Fourie wat voorheen adjunkhoof by Hoërskool Nylstroom was, is aangestel as hoof by die Waterbergskool vir CVO.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button