Schools

Euphorbia-hoofseun maak nuwe tradisie moontlik

Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool in Mookgophong se hoofseun van 2023, Renier Pieterse, het besluit om ’n afskeidsgeskenk aan die skool te gee wat blywend en inspirerend vir die toekoms sal wees.

Renier het met die plan vorendag gekom om ’n groot houtnaambord aan die skool te skenk waarop elke hoofleier se naam aangebring kan word. Daar is ook plek waar ’n afskeidsboodskap geskryf kan word.

“Hy wou iets gee wat vir altyd daar sal wees en ons het hom ondersteun in sy besluit,” het sy ouers, Wiele en Ilze Pieterse, gesê.

Hulle het Corlia Steenkamp genader en sy het die lieflike bord gemaak.

“Begin elke dag met ’n dankbare hart, want elke dag is ’n geskenk uit genade vanaf Jesus aan jou,” was sy boodskap.

Mia Botha, hoofmeisie van 2023, se boodskap aan die skool lui:

“Lig jou ken en ken jou lig. Slegs deur Sy lig kan jy jou pad vind wat Hy vir jou bestem het.”

Volgens Ilze is Renier ’n seun met ’n liefde en deernis vir sy medemens. Hy hou baie van sport en presteer goed in akademie. Hy is ’n uithalerspiesgooier en gimnas en het Limpopo-kleure in die sportsoorte verwerf.

Hy het op Saterdag 2 Desember in Secunda by die ASA-kampioenskap deelgeneem en is tans 12de op die ranglys vir spiesgooi in sy ouderdomsgroep.

Hy het ook gedurende sy laerskooljare uitgeblink in ander sportsoorte soos rugby, tennis, krieket, swem, fietsry, atletiek (spiesgooi, hoogspring, verspring, hekkies, langafstande en kortafstande). Hy het ook ’n voorliefde vir kultuur. Hy het aan verskeie kompetisies deelgeneem in drama en redenaars. Renier het boonop ’n besondere musiektalent en speel kitaar en klavier.

Renier lewe vir die plaas en sy diere en godsdiens was nog altyd belangrik. Hy sien uit na die hoërskool en wil graag bydra tot die wenkultuur by sy nuwe skool.

Related Articles

Back to top button