Schools

Skool se raakvatter een van die land se bestes

’n Sekretaresse wie se hande vir niks verkeerd staan nie, laat ’n kantoor doeltreffend en seepglad funksioneer.

Dit is hierdie einste eienskap wat Jolandi Campher, sekretaresse van Hoërskool Nylstroom se skoolhoof, Anton du Plessis, ’n plek as een van Solidariteit se topdriekantoorpraktisyns in hul Kantoorkampioene-kompetisie besorg het.

Sy is deur een van die beheerliggaam se lede benoem en het daarna talle stemme in die kompetisie verwerf.

Campher het reeds 27 jaar se kantoorondervinding agter die blad.

“Ek het op skool uitgeblink met tik en wou sake-administrasie gaan studeer, al het my evaluasietoetse getoon dat rekeningkunde ’n goeie rigting vir my sou wees.”

Op haar tipiese raakvatmanier het Campher haar studies by die destydse Pretoria Technikon aangepak. Sy was in haar tweedejaar onderprimaria en in haar derdejaar primaria van haar koshuis.

Haar loopbaan het haar interessante paaie laat loop: ’n pos by ’n prokureursfirma, daarna by die Universiteit van Pretoria waar sy toe wel ’n boekhoudingkursus voltooi het, by ’n hondekosfabriek en as skoolsekretaresse in Bronkhorstspruit. Nadat haar eersteling gebore is, het sy tuis gebly, maar kon nie lank stilsit nie en het met skape begin boer.

“Ek was baie trots daarop toe ek ’n vierlinglammers kon grootmaak.”

Nadat die Campher-gesin in 2017 Modimolle toe verhuis het, het sy die Casamento-onthaalplek bedryf totdat die Covid 19-pandemie ’n tydelike einde aan die hou van gesellighede gebring het. “Ek het aansoek gedoen vir die pos by die skool en vir ’n tyd lank steeds die akkommodasie van Casamento behartig,” het sy vertel.

Campher glo akkuraatheid, stiptelikheid, hardwerkendheid, eerlikheid en goeie kommunikasie is belangrik in haar werk.

“As die sekretaresse van ’n skoolhoof het ek geleer dat ’n mens inisiatief moet neem in moeilike situasies. Jy moet só vriendelik wees dat mense dit ook in jou stem oor die telefoon kan hoor.”

As daar werk is wat nou afgehandel kan word, laat sy die nie oorstaan vir ’n volgende dag nie, want jy weet nooit wat more bring nie.

“Ek geniet elke oomblik daarvan om by die skool te werk. Ek help met die reël van gesellighede, of dit nou vir kultuur of sport is, en geniet my uiteenlopende kollegas. Dit is vir my heerlik om met die kinders te werk en kantoormamma te wees.”

Die wenners sal later vanjaar tydens Solidariteit se Sterre in die Gemeenskapgeleentheid bekendgemaak word.

Related Articles

Back to top button