Schools

Matrieks gereed vir die eindeksamen

Om jou skoolloopbaan se laaste eksamen af te lê is ’n bittersoet ervaring.

Vir die meeste is dit die beloning van 12 jaar se harde werk, maar vir sommige is dit die vrees dat daar nie genoeg gewerk is nie.

Die Pos het by ’n paar matrieks van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gaan hoor hoe hulle voel oor die mylpaal wat voorlê.

Coldane Maritz voel so ’n bietjie gespanne oor die onbekende van dié eksamen wat 75% van die jaar se uitslae tel, maar sy weet hoe om hard te werk en omdat sy goeie voorbereiding gedoen het, vertrou sy dié eksamen sal ook goed verloop. “Ek het die twee–drie–vyf–sewe-studieplan opgetrek. Hierdie plan laat jou minstens drie weke voor die eksamen begin hersiening doen,” het sy vertel. Vir haar is die uitwerk van vorige vraestelle ’n goue reël en dan vertrou sy op die Here om haar wysheid en insig te gee.
“Die werklikheid het nog nie heeltemal ingeskop nie, al het ek reeds twee van my matriek eindeksamenvraestelle geskryf. Ek voel gemotiveerd, positief en ek weet waar my krag lê. Die lig aan die einde van die tonnel is in sig en met die gedagte: “Doen jou bes en Liewe Jesus doen die res,” is ek gereed en gefokus om my laaste skooleksamen aan te pak met alles in my,” het Younele Rietchard gesê. Met haar toekoms in gedagte bid en werk sy hard deur hersiening te doen, vraestelle uit te werk en doen alles in haar vermoë om haar doelwitte te bereik.
Hein Engelbrecht het vertel dat hy redelik “gestres” is oor die eksamen. “Ek hoop dat ek alles sal kan doen in wiskunde wat ek geleer het vir toetse en eksamen. Verder voel ek as ek vasbyt, sal ek suksesvol wees,” het hy gesê. Buiten die spanning vir die vraestelle voel hy nogal opgewonde omdat dit die laaste eksamen van skool sal wees. “Ek leer vooruit vir al my vakke en doen moeite om die werk so goed as wat ek kan, te verstaan en te skryf na die beste van my vermoë.”

Related Articles

Back to top button