Schools

Hansie wen trofee met gebak

Lauretta Yzelle, gr.11-leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, was in ekstase toe sy Limpopo op Saterdag 30 September as verbruikerstudieleerder verteenwoordig het by die National Tourism Careers Expo (NTC) se koekbakkompetisie by Nasrec in Johannesburg en boonop met die louere weggestap het.

Sy het ’n trofee en ’n studiebeurs van 18 maande by The Finishing College (TFC) ontvang.

Vanjaar se tema was “Save the Earth”. Elke provinsiale deelnemer het dieselfde basiese resep vir ’n ligte Madeirakoek gekry wat op die dag van die kompetisie binne vier ure gebak en volgens die tema versier moes word. Die beoordelaars was baie in hul skik met die leerders se kennis en bakvernuf.

Laurette se mentor en verbruikerstudie-onderwyser, Karin Prinsloo, was baie trots op haar mooi prestasie. Sy het aan Die Pos gesê die doel van die kompetisie is om jongmense te inspireer om in die gasvryheid- of toerismebedryf betrokke te raak.

Lauretta het ’n “rivier” in die middel van die koek gemaak wat ’n waterval vorm. Die gesnyde deel het sy gebruik om ’n rots te maak met ’n sjokoladepyp wat “gryswater” voorgestel het. Aan een kant het sy groen gras en blomme uit fondant gemaak, asook twee lowergroen bome. Aan die anderkant het sy dun fondant gesny en gefrommel dat dit soos rommel en droë bome lyk. Op die groen kant het sy met fondant “Save the Earth” geskryf.

Limpopo is ook tydens ’n spesiale geleentheid op Woensdag 4 Oktober met ’n trofee as nasionale wenner van die kompetisie vereer.

Related Articles

Back to top button