Schools

Dié manne wys van watter stoffasie hulle gemaak is

Die manne wat braaf genoeg was, het mekaar op Saterdag 23 September die stryd aangesê toe die “Wys jou Staal”-kompetisie vir die eerste keer by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong aangebied is.

Die kompetisie was ook deel van die skool se fondsinsamelingsprojekte om die Bosveld Interhoër in 2024 aan te bied.

“Dit was die eerste keer dat ons die kompetisie aangebied het en dit was ’n reusesukses,” het Rinette Louw, een van die organiseerders, aan Die Pos gesê.

Daar het 15 spanne ingeskryf en elke span het uit vier lede bestaan. Daar was altesame 11 aktiwiteite waaraan elke span moes deelneem. Elke aktiwiteit moes binne ’n gegewe tyd afgehandel word. Die interessante aktiwiteite het bestaan uit kleiduifskiet, boorgat trek, hak sweis wat dan ingespan word om ’n swaar sak klippe op te tel en te weeg, om ’n trekker met disselboom-sleepwa agteruit te stoot deur spesifieke punte, wiel omruil, pale inkap om draad te span, gereedskapkas uitmekaar haal, minilaaigraaf (excavator) bakke vol water maak, ’n sportaktiwiteit wat behels het dat deelnemers netbalballe op sekere punte deur ’n ring gooi en laaste maar ook die gewildste aktiwiteit: ’n braai uitdaging.

Al die spanne het gelyk begin. Elkeen is toegerus met ’n kas bier of koeldrank, vier stoele en ’n sak hout. Die spanlede moes hardloop tot by ’n sekere punt, die bier of koeldrank drink en daarna hardloop na die vuurmaakpunt. Elke span moes met hout en wat hulle bymekaar kon maak, ’n vuurtjie aan die brand kry. Die span wie se vuur die hoogste gebrand het, is as die wenners aangewys. Die wenners was die span BoBaas, bestaande uit Pieta van Rooyen, Donald Cawood, Nico Genis en CG Kruger wat ’n allemintige R20 000 losgeslaan het.

Die aand is afgesluit met ’n veiling en daarna is daar lekker gebraai en die wêreldbekerrugby op die grootskerm gekyk .

Louw het al die borge bedank en gesê ’n soortgelyke kompetisie word vir 2024 beplan met nuwe kinkels in die aktiwiteite.

Related Articles

Back to top button