Schools

Hansie-matrieks uitgedos in spogvere

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het die lente tegemoet gegaan met ’n spoggerige matriekafskeid by die pragtige Die Boer en Die Belg-onthaalplaas buite die dorp.

Die jong dames en here het op Vrydag 28 September met hul feestelike uitrustings in spogmotors aangekom om die matriekafskeid by te woon. Daar was lang, slap karre, ’n ou Fordjie uit toeka se dae en die hoofmeisie van 2023, Caitlyn Hunter, het in ’n sierlike koets gery wat die gaste dadelik aan die koninklike familie laat dink het.

Die tafels was gedek met ’n Bosveld-tema en vol gepak met pampasgras in bruin bottels.

Daar was ’n heerlike buffet-ete en tradisionele malvapoeding met roomys as nagereg. Die gr.11-ouers het ’n pragtige fotohoekie geskep waar die amptelike foto’s geneem is.

Kamo Sethosa en George Nkoane het die koppe laat draai met hulle elegante aanddrag.

Die meisies het elegante rokke gedra en die gunstelingkleure het gewissel van sagte pienk tot smaraggroen.

Die seuns het net so geskitter in deftige pakke klere en twee van die maats het afgespreek om in hul beste kakieklere op te daag.

Johanette Pretorius, die matrieks se graadvoog, het die leerders gegroet met ’n gedig wat sy self geskryf het en aan dié leerders opgedra het wat die afgelope vyf jaar saam met haar die pad gestap het:

“Daar is soveel bolmakiesiegedagtes oor jou binne my …
ek kook konkoksies in my kop
wat soms wonderbaarlike kombineer, byna roerend ons siele raak
ander kere spat die vonke
oor beeldspraak en stylfigure en retoriese middels en die spelling van op pad
Maar steeds het jy my keer op keer
oorrompel met fyn humor
ons kon skouers skuur gedagtes ruil
en soms generasies sommerso,
terloopserig
aan mekaar vasgom …
En soms het ons mekaar sonder ‘bullet proofs’
in die oë gekyk kaalvuis gepraat
dieperige dinge met mekaar gedeel
En nou, sal jy,
— omdat ek, O! So baie van jou hou —
altyd in my prutpot van onthou kan bly
mag bly al moet jy binnekort gaan …
Liefste mens,
Ek sal ons klaskamerkuiers koester
ons geselsies het ek opgegaar
en vir ewig binne my onthoue ingeroer
om happie vir happie op my tonge te rol
in my kies te bêre
om my daar geselskap te hou
want ek weet, K202 en die
juffrou daarbinne,
sal jou so baie mis
Ek groet jou!”

Die pragtige Anke van den Berg en haar metgesel, Raynard Meyer
Caitlyn Hunter, hoofmeisie van die Hansies 2023, saam met haar metgesel, Duncan Lambrechts
Die pragtige paartjie is Bertus van Wyk en Lian Celliers.
Henrico Kruger, hoofseun van 2023 en sy metgesel, Kaylé Hayes.
Die twee jong dames wat so spoggerig uitgevat is, is Chrystal-Leigh Bothma en Annerie Nel.
Hierdie twee elegante dames is Jance Marneweck en Amuri Nel.
Younele Rietchard en Zayne Smit het spoggerig gelyk tydens die glansaand.
Marli Hoffmann en Wian Engelbrecht het soos ’n ware Barbie en Ken gelyk.
Die sjarmante Rochelle Ruthven en Hendré Botha het die koppe laat draai.
Nadia van Staden en Stian van Deventer was een van die glanspaartjies by die matriekafskeid.

Related Articles

Back to top button