Schools

Karnivoor-wildsfees ‘n reuse sukses

Gaste wat by uitstek vleiseters is, het ’n heerlike geleentheid gehad om aan verskeie watertand-wildsdisse te smul toe Hoërskool Hans Strijdom hul Karnivoor-wildsfees op Saterdag 23 Junie gehou het.

Daar was 375 gaste wat nie net die ete geniet het nie, maar heerlik om die reusevure gekuier en ook die voete gewikkel het op die dansvloer.

“Dit was ’n gesellige fees met verskeie soorte wildsvleis, asook ’n tafel met eksotiese disse soos slang, krokodil, haas en ’n heerlike fisantpastei,” het Rinus de Jager, hoof van Hoërskool Hans Strijdom, gesê.

Op die reusespitbraai is vlakvark, bosvark, koedoe, bosbok, nyala en swartwitpens sappig gebraai. ’n Stroper is omskep as braaier en nege verskillende karkasse kon op een slag gebraai word.

Dan was daar ook heerlike gemsboksosaties, wildswors en smullekker bykosse. Elke lapa het ’n gasvrou gehad en hulle het die 16 gaste bederf met Bosveld-gasvryheid.

Ná die ete is ’n suksesvolle veiling gehou waartydens jagpakkette, messe, vakansies, helikopterritte en ’n Fausti-haelgeweer opgeveil is.

“Dit was die eerste wildsfees, maar beslis nie die laaste een nie,” het Bobby Mcleod, organiseerder van die fees, gesê.

Coenie Bernart en sy orkes het opgetree en het die gaste tot laataand vermaak.

Hiermee saam is die 22ste voëljag ook gehou. Vanjaar het ’n rekordgetal spanne ingeskryf. Die 33 spanne het bestaan uit vier jagters per span en elk het ’n gids gehad om hulle te vergesel. Die jagtog het oor twee dae gestrek en die jagters het op verskeie plase in die omgewing duiwe, fisante en tarentale geskiet. Van die jagters het hul goedopgeleide spoorsnyhonde saamgebring.

Die kleiduifskietkompetisie het Vrydagmiddag plaasgevind en ook daar was ’n rekordgetal inskrywings.

Die voëls wat geskiet is, word aan Solidariteit se Helpende Hand HelpJag-projek geskenk wat dit op hul beurt versprei na gesinne wat in nood is. HelpJag versprei wildsvleis na 89 skole regoor die land en voed daarmee ongeveer 8 000 kleuters.

Pryse is toegeken vir die swaarste tarentaal, swaarste fisant, grootste tarentaalkam, grootste fisantspoor, swaarste sak duiwe en die beste kleiduifskut.

Related Articles

Back to top button