EntertainmentSchools

Hansies beplan wildsfees

Dit is aanstaande jaar Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se beurt om die Bosveld Interhoër aan te bied en daarvoor het die skool baie geld nodig.

Juis daarom het die Hansies besluit om hul jaarlikse Voëljag-fondsinsameling van 23 en 24 Junie te kombineer met ’n ware “Karnivoor-wildsfees”.

“Dit sal ’n groot fees wees met verskeie soorte wildsvleis, asook ’n tafel met ’n paar eksotiese disse wat ’n verrassing bly tot daardie aand,” het Rinus de Jager, hoof van die Hansies, gesê.

Die beplanning is goed op dreef en verskeie wildspesies sal op die spit gebraai word. Heerlike bykosse soos pampoenpoffers, aartappelgebak, pap en sous is ook op die spyskaart. Die ouers en enige sakeonderneming kan ’n lapa koop waar 16 gaste kan sit. Die koste beloop R3 500 per lapa of R250 per persoon.

“Ons sal so 17:00 begin en dan kuier tot laataand,” het Bobby Mcleod, bemarker van die skool, gesê. Coenie Bernart en sy orkes sal die aand musiek verskaf.

Hiermee saam sal die 22ste voëljag aangebied word. Die jag strek oor twee dae en die jagters skiet op verskeie plase in die omgewing. Van die jagters bring hul goedopgeleide voëljaghonde saam wat die tarentale en fisante kan opjaag. Die kleiduif-skietkompetisie sal weer die Vrydagmiddag plaasvind. Die voëls word aan Helpende Hand Solidariteit se HelpJag-projek geskenk wat dit weer aan behoeftige gesinne gee. HelpJag versprei wildsvleis na 89 skole regoor die land en voed daarmee ongeveer 8 000 kleuters.

Ontbyt word die Saterdagoggend om 06:00 in die skool se lapa bedien en elke jagter en gids sal lande toe gaan met ’n koelhouer en ’n heerlike kospakkie.

Pryse word toegeken vir die swaarste tarentaal, swaarste fisant, grootste tarentaalkam, grootste fisantspoor, swaarste sak duiwe en die beste kleiduifskut.

Navrae kan gestuur word aan Bobby Mcleod by tel. 084 515 7444.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button