Schools

Limpopo-redenaars beïndruk

Die nasionale ATKV-redenaarskompetisie het op Vrydag, 12 Mei sy hoogtepunt in Limpopo bereik met die semi-finale ronde wat by Hoërskool Hans Strijdom (Mookgophong) aangebied is.

Die organiseerder was Johanette Pretorius, bygestaan deur volwasse- en leerderbeamptes.

Die top deelnemers in die noordelike- en suidelike-kring het teen mekaar meegeding om te bepaal watter twee sprekers (wat eersdaags aangekondig sal word) in elk van die 11 kategorieë die provinsie sal verteenwoordig tydens die landswye ronde op 17 en 18 Augustus by die ATKV-Goudini Spa in die Wes-Kaap.

Die ATKV-redenaars begin in Oktober elke jaar wanneer die volgende jaar se ATKV-redenaarstemas bekend gemaak word.

Deelnemers van gr. 1-12 word genooi om deel te neem en onderwysers en kundiges staan behoorlik bont om riglyne en raad te gee.

Ouers en deelnemers steek ook voelers vir hulp uit na familielede, vriende of kennisse met bewese skryftalent, want die kompetisie is straf. Tot selfoonvideo’s word ingespan om Ouboet of Kleinsus se vordering te deel en wenke word altyd verwelkom.

Die temas wissel jaarliks van eenvoudige begrippe soos kleur, speel en klein (gr.1 tot 3) tot komplekse konsepte soos ideologie, bemagtig en inklusief (gr. 10-12).

In die voorbereide afdeling moet deelnemers ’n beredeneerbare onderwerp uit een van die drie temas formuleer. Sommige deelnemers verkies om aan die onvoorbereide afdeling deel te neem. In hierdie afdeling moet hulle ’n volwaardige toespraak onder toesig in ’n beperkte tyd skryf en dan lewer.

Beoordelaars is uitstekende, opgeleide en ervare taalkundiges, skrywers, afrigters, onderwysers of dramaskoolbestuurders.

Related Articles

Back to top button