Schools

Duitsland wink vir dié Hansie

’n Graad 11-leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, Isebelle de Beer het verlede week die goeie nuus ontvang dat sy binnekort as uitruilstudent van die FSA (FSA = Freundeskreis für Südafrika / Friends of South Africa) Jeuguitruilprogram, na Duitsland gaan vertrek.

“Ek het die aansoek en proses al verlede jaar begin want ek het nog altyd baie belang gestel in ’n groter wêreld en veral oor hoe ander jongmense in die wêreld leef. Europa was nog altyd eerste op my lys van lande/kontinente om te besoek. Toe ek van hierdie geleentheid hoor, was dit ’n droom wat ’n werklikheid begin word het.” “Ek het aansoek gedoen en nou is ek, met genade van Bo, op pad Duitsland toe! Ek is ongelooflik dankbaar,” het sy aan Die Pos vertel.

Die eer is egter nog groter aangesien sy een van slegs 40 leerders is wat gekeur is uit die aansoeke.

Sy het ’n punt van 97,10% behaal in die toets wat voornemende kandidate moes aflê. Dit het aan haar die eerste plek in Limpopo besorg en algeheel tweede in die land.

Sy sal ses weke gedurende Junie en Julie 2023 in Duitsland spandeer. Die program is A-polities en word nie deur die regering gereël nie.

Isebelle sal die geleentheid kry om Duits te leer terwyl sy daar is.

Die oogmerk is ook om leerders geleentheid te bied om die kultuur en onderrig van die land te ervaar en sy sal vir die tydperk tuis gaan by ’n Duitse-gesin, en deel word van die gemeenskap en nie die land net as toeris ervaar nie.

Isebelle is ook ’n veelsydige leerder wat akademies uitblink en ’n gemiddeld van bo 90% behaal het in graad 10 en die eerste kwartaal van 2023.

Sy is ’n kranige redenaar en ’n goeie hokkiespeler.

“Ons is baie trots op Isebelle en ek is daarvan oortuig dat sy ’n baie goeie ambassadeur vir haar skool en land sal wees,” het Rinus de Jager, hoof van die Hansies gesê.

Related Articles

Back to top button