Schools

Departement gryp in by skole se rekeninge

Vyf weke nadat die Susan Strijdomskool in Modimolle se krag afgesny is weens wanbetaling, brand die ligte weer ná die ingryping van die provinsiale departement van onderwys.

Die skool se kragtoevoer is op Dinsdag 7 Maart deur die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit afgesny as deel van hul skuldinvorderingsprojek, Operasie Patala. Die skool skuld die munisipaliteit glo etlike miljoene vir dienste. Verskeie ander skole se kragtoevoer is ook afgesny, maar hulle het betalings gemaak om dit te herstel.

Die kragonderbreking, wat gelukkig grootliks gedurende die skoolvakansie was, het egter tot groot frustrasie van inwoners op die terrein gelei wat die inhoud van hul vrieskaste verloor het en nie kon kosmaak of wasgoed was nie. Kragopwekkers moes ten duurste ingespan word.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, het die provinsiale departement van onderwys verlede week met die munisipaliteit geskakel om Susan Strijdomskool se kragtoevoer te herstel.

Die departement sal glo verskeie skole met hul munisipale rekeninge help. Hulle sou na verwagting op Vrydag 21 April die betalings aan die munisipaliteit maak. Die skuld het volgens Van Staden opgehoop omdat die maandelikse diensterekeninge nie betaal is nie.

Volgens Mike Maringa, woordvoerder van die departement, is daar met die skole ooreengekom dat hulle hul munisipale rekeninge moet betaal.

“Indien daar enige wanbetaling is, het ons die munisipaliteit versoek om ons in kennis te stel,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button