Schools

Seun wat beseer is tydens rugbywedstryd motiveer skool

Leerders van Hoërskool Warmbad wat dalk ’n bietjie moedeloos of onder druk voel, het op Vrydag 17 Februarie ’n motiverende inspuiting gekry wat hulle nuwe energie en hoop gegee het.

Hoërskool Warmbad het vir Koben Hofmeyr genooi om sy positiewe gesindheid met die Warries te deel. Reeds toe hy op die verhoog verskyn het met sy krukke was dit sy wye glimlag wat die leerders oorrompel het.

Koben het vier jaar gelede sy nek gebreek tydens ’n rugbywedstryd tussen Hoërskool Louis Trichardt en Warmbad op die Warries se tuisveld.

Medici het destyds voorspel dat hy vir die res van sy lewe verlam sou wees.

Koben Hofmeyr het leerders en personeel van Hoërskool Warmbad gemotiveer vir die Bosveld Interhoër wat voorlê. Saam met hom is Louis Cilliers, Warries skoolhoof, asook Koben se vriendin, Wilma van Heerden.

“Ek was lank in ’n rolstoel, maar my kop het gesê jy kan uit hierdie rolstoel opstaan. Ek het begin oefen en dit het my daaglikse mantra geword: Oefen, oefen en nog oefen. Teen alle mediese verwagtinge het die Here die laaste sê gehad en is ek vandag op ’n plek waar ek kan getuig dat harde werk en geloof jou uit enige situasie kan lig,” het hy aan Die Pos vertel.

Hy sê dat sy ouers, Trompie en Annelize, ook nooit moed verloor het nie. Hy is dankbaar vir al die weldoeners wat bygedra het tot die Koben Hofmeyr-fonds.

“Ek het vier jaar gelede ’n motiveringsboodskap by Hoërskool Hans Strijdom en Hoërskool Pietersburg gelewer. Noudat ons gesin na Bela-Bela verhuis het, is dit ’n voorreg om by Hoërskool Warmbad op te tree,” het hy gesê.

“Ek het juis die Warries kom besoek om hulle te motiveer voor die Bosveld Interhoër. Ek wil die Warries aanraai om elke geleentheid te gebruik wat oor hul pad kom. Leerders moenie toelaat dat negatiewe gedagtes die oorhand kry nie. Bly positief.”

Hy vertel dat hy hom voor sy besering as leerder in Makhado min gesteur het aan respek teenoor ander mense, dissipline en sy akademie. Die besering wat hy die dag op die rugbyveld opgedoen het, het egter sy denke oor die lewe verander. Hy kan onomwonde sê dat hy vandag op ’n beter plek is as toe.

Hy skerts dat die liefde in sy lewe, Wilma van Heerden, hom nie as haar kêrel sou gekies het voor die ongeluk nie. Sy is ’n opkomende sanger.

Koben is tans ’n tweedejaarstudent in elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria. Hy vertel met trots dat hy mededingend is en deelneem aan swem en fietsry. Hy gebruik sy arms om ’n padfiets te trap. Hy het ook vanjaar by ’n roeiklub ingeskakel. Hy het verlede jaar ’n driekampbyeenkoms by Tukkies aangedurf.

Hy beoog om vanjaar tussen Bela-Bela en Pretoria te pendel terwyl hy sy studies voltooi. Intussen sal hy beskikbaar wees vir leerders wat hom nodig het vir ’n bietjie motivering.

Related Articles

Back to top button