Schools

‘Hou ons dop,’ sê Warries se skoolhoof

Hoërskool Warmbad is hierdie naweek met nuwe geesdrif, baie talent en topatlete onderweg na die 59ste Bosveld Interhoër in Groblersdal.

Die Bosveld-bond wat bestaan uit Hoërskole Piet Potgieter, Hans Strijdom, Nylstroom, Warmbad, Ben Viljoen, Ellisras en Frikkie Meyer sal op Saterdag 25 Februarie om die gesogte trofeë meeding.

Die Warries het reeds hierdie seisoen puik prestasies behaal en hul atlete is goed voorbereid vir die byeenkoms. Thinus van der Heever, sportorganiseerder, sê die skool is positief oor die 121 atlete wat gekies is om die skool op die interhoër te verteenwoordig.

Hy sê die atlete wat dopgehou kan word vir ’n plek op die podium, is Pule en Hasane Sebolao (100 m-, 200 m-hekkies en verspring-items), Dienkie Vorster (gewigstoot en spiesgooi), Kegomoditse Monama (100 m en 200 m-wedloop), Adriaan Vosloo (400 m en 800 m), asook Christiaan Oberholster (110 m-hekkies en 400 m-wedloop).

Adriaan Vosloo.

Soos altyd is die senior aflosspanne se item ’n hoogtepunt op die interhoërprogram. Die laaste wedloop van die dag is altyd ’n titaniese stryd, het Van der Heever gesê.

Louis Cilliers, skoolhoof, sê die atlete, sangers en afrigters het hard gewerk in hul voorbereiding en sien met groot opgewondenheid uit na die byeenkoms.

Pule Sebolao.

“Dit is maar die begin van die Warrie-rewolusie. Die dae is verby dat Hoërskool Warmbad slegs as goed genoeg beskryf is. Ons sal in die toekoms as ongelooflik beskryf word. Hou ons dop!”

Die sangers het die week vir hul finale “geesvang-geleentheid” by die skool byeenkom en vir oulaas hul passies op die pawiljoen geoefen waarmee hulle Saterdag die atlete sal aanmoedig.

Dienkie Vorster.

Die Bosveld Interhoër is verlede jaar by Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane aangebied en weens die Covid-19-pandemie is daar ’n beperking geplaas op die aantal toeskouers wat toegelaat was.

Hoërskool Ben Viljoen het op sosiale media aangedui dat daar vanjaar geen beperking sal wees op getalle. Alle toeskouers is welkom by die byeenkoms.

Christiaan Oberholster.

Toegang beloop R100 per volwassene. Leerders in skooldrag se toegang is gratis. Leerders wat in siviele klere opdaag, moet ook R100-toegang betaal. Vir laerskoolkinders is die toegang R50, maar vir kinders onder drie jaar is dit gratis.

  • Die Pos-kinderfonds het gehelp om 10 Warries se koste te dra na Groblersdal.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button