Schools

Warrie-matrieks hou kop hoog met 43 onderskeidings

Hoërskool Warmbad se matriekgroep van 2022 het die vrugte van hul harde werk gepluk en ’n welverdiende slaagsyfer van 98,1% behaal.

Uit die 104 matriekleerders wat vir die 2022 nasionale eksamen ingeskryf het, het slegs twee Warries nie die minimum- vereistes behaal nie. Die 2021-matriekgroep het 83 leerders gehad wat die finale eksamen afgelê het.

Die skool spog met 43 onderskeidings en 68 leerders het vrystelling gekry om vir ’n graadkursus in te skryf. Altesame 29 leerders het met vrystellings geslaag om vir ’n diploma in te skryf en vyf vir ’n hoër sertifikaat.

Precious Makau het ’n blink toekoms wat wag danksy die akademiese prestasies wat sy in die 2022 nasionale eksamen behaal het. Saam met haar staan Louis Cilliers, trotse skoolhoof van Hoërskool Warmbad.

“Ek is besonders trots op die matrieks. Baie dankie aan elke onderwyser, leerder en ouer wat gehelp het om hierdie uitslae moontlik te maak. Die slaagsyfer is goed, maar vanjaar gaan ons werk vir 100%,” het Louis Cilliers, skoolhoof, gesê.

Altesame 14 uit die 20 vakgebiede het ’n 100%-slaagsyfer behaal.

Enkele leerders het ongelukkig vakke soos wiskundige geletterheid, fisiese wetenskap, besigheidstudies, lewenswetenskap, rekeningkunde en geografie gedruip.

Bernice Reichl staan hier by haar trotse pa, SW, op die dag wat sy haar matrieksertfikaat afgehaal het. Sy het vier onderskeidings behaal.

Die vak waar die meeste onderskeidings behaal is, is lewensoriëntering. Altesame vyf Warries het A-simbole in hierdie vak behaal.

Die akademiese uitblinkers was reeds vroeg in die jaar op die skool se toptien. Hulle is Marijke Vosloo (agt onderskeidings), Frances de Jonge (ses), Precious Makau (ses), Bernice Reichl (vier), Lehlohonolo Mokwena (drie), Robbin Vorster (drie), Shally Maramela (twee), Tshegofatso Makhubela (een), Jan-Hendrik du Preez (een) en Carmien de Beer (een).

Marijke se gemiddelde persentasie was 90%. Haar agtste vak was musiek wat sy deur Unisa behaal het. In die Vosloo-huishouding is onderskeidings volop. Haar broer Christiaan het in 2019 ses onderskeidings behaal.

Sy is van plan om vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria te studeer, het sy aan Die Pos vertel.

Marijke sal waarskynlik vir Frances op kampus raakloop, want sy gaan ook na die Universiteit van Pretoria waar sy ingeskryf is vir veeartsenykunde.

Tallah Moola en Heinrich Hirschorn lig hul hoofseun van 2022, Lehlohonolo Mokwena, omhoog op die dag wat die finale matriekuitslae bekend gemaak is. Tallah beplan om vanjaar argitektuur te studeer, Lehlohonolo mikrobiologie — maar kan dalk van rigting verander — en Heinrich beplan om hom te bekwaam by die Sondela Academy buite Bela-Bela.

Precious het met die afhaal van haar matrieksertifikaat verbaas na die simboolstaat in haar hande gestaar. Sy het vertel sy kan steeds nie glo sy het soveel onderskei-
dings behaal nie. Sy sê sy het reeds keuring by drie universiteite in Gauteng gekry. Sy het egter nog nie finaal besluit waar sy ver-
der wil studeer nie.

Sy beplan wel om vanjaar met haar studies in rekeningkunde te begin.

Cilliers en sy personeel kyk intussen na die pad vorentoe.

“Aan die einde van die jaar sal ons met opgewondenheid kan sê ons het vermag wat ons ten doel gehad het. Daar is nuwe stelsels reeds in plek wat dissipline en ’n kultuur van leer en deelname gaan bevorder. As ons dit in plek het kan ons verwag om te presteer.”

Related Articles

Back to top button