Schools

Hansies kraai koning met 100% slaagsyfer

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong se matrikulante van 2022 het skouer aan die wiel gesit en puik presteer in die afgelope matriekeksamen.

Twee van die Hansies het elk vyf onderskeidings verwerf. Janco van der Walt, wat ook hoofseun was, het in Engels (Eerste Addisionele Taal), Afrikaans (huistaal), lewensoriëntering, rekeningkunde en fisiese wetenskap onderskeidings behaal en sy gemiddeld was 81,28%. Hy is ingeskryf by die Universiteit van Pretoria waar hy elektroniese ingenieurswese sal studeer.

“My doel is om eendag ’n doktorsgraad in hierdie rigting te verwerf,” het hy vasbeslote gesê.

Hy het sy sukses toegeskryf aan die ondersteuning van sy ouers, onderwysers en die Here wat hom die vermoëns gegee het om dit kan doen.

Janco van der Walt, hoofseun van 2022, het vyf onderskeidings verwerf.

“Jy moet van die begin van die jaar op datum bly, fokus op die akademie en hard werk,” is sy boodskap vir die matrieks van 2023.

Sy lewensfilosofie is om te volhard waarin jy glo.

Magda du Preez het ook vyf onderskeidings verwerf en ’n gemiddeld van 83,8 % behaal. Haar A-simbole was vir Afrikaans (Huistaal), Engels (EAT), lewensoriëntering, besigheidstudies en wiskunde geletterdheid. Sy is ’n slimkop wat verder wil studeer in digitale bemarking, maar het reeds ’n administratiewe en rekenkundige pos by Agrico in Modimolle aanvaar.

Yvette Swan is baie trots oor haar vier onderskeidings.

“Ek wil eendag my eie onderneming hê waar ek mense kan oplei om effektiewe bemarking te kan doen,” het sy met blink oë gesê.

Haar gesondheid was gedurende die jaar ’n uitdaging vir haar, maar sy glo dat die genade van die Here haar gedra het.

Yvette Swan het in vier van haar vakke onderskeidings behaal en gaan diereverpleegkunde by Onderstepoort studeer. Sy het in Engels (EAL), lewensoriëntering, ingenieursgrafika en ontwerp en lewenswetenskap A’s verwerf met ’n gemiddeld van 78,42 %.

Roelf van Emmenes spog met drie onderskeidings.

“My ouers se ondersteuning, passievolle onderwysers en harde werk het my sukses laat behaal,” het sy gesê.

Roelf van Emmenes het in Engels (EAT), lewensoriëntering en elektries onderskeidings behaal en beplan om by Sol-Tech-kampus in die elektriese rigting te studeer.

“My boodskap aan die matrieks is om hard te werk, maar ook gebalanseerd te leef,” het hy gesê.

Die Hansies het altesame 41 onderskeidings en 184 B-simbole verwerf en 95% het gekwalifiseer vir verdere studies aan ’n universiteit of kollege.

“Ons is trots op die matrieks van 2022. Dankie vir elkeen se harde werk. Ek salueer die gr. 8-12-onderwysers wat hierin ’n aandeel gehad het. Dankie aan elke ouer wat hul kind ondersteun het. Hierdie is die begin van ’n goeie jaar vir Hoërskool Hans Strijdom,” het Lizel Swart, akademiese adjunkhoof, gesê.

“Die 100% slaagsyfer laat ons harte warm klop en ons blou vlammetjies brand hoog,” het Rinus de Jager, skoolhoof gesê. Die Hansies het laas in 2011 ’n 100% slaagsyfer gehad. My beste wense vergesel elkeen en mag die toekoms vir hulle mooi wees, het De Jager gesê.

Related Articles

Back to top button