Schools

Gewilde wiskundesentrum in Modimolle sluit sy deure

Beter wiskunde punte. Vir baie jare was dít oud-onderwyser Anne-Marie de Wet van Modimolle se doelwit.

Sy het 15 jaar lank fisiese wetenskap by Hoërskool Nylstroom onderrig en was ook 17 jaar lank by die Waterberg CVO-skool betrokke. Sy het gedurende haar tyd by die CVO-skool die Kumon-wiskundesentrum in die dorp bedryf. Dit het egter nou tyd geword om rustiger te word.

“Ek het altyd gesê ek gaan werk tot ek 70 jaar oud is. Die tyd het vanjaar aangebreek,” vertel sy op haar rustige manier.

Sy sit gemaklik tussen die skoolbankies van haar Kumon-klaskamer langs haar huis waar talle kinders deur die jare aangeklop het om wiskunde onder die knie te kry of hul punte te verbeter.

“Ek was nog altyd lief vir wiskunde en om ander te leer. Ek het vroeg begin oefen om klas te gee en my sussies kon almal reeds wiskunde doen voordat hulle skool toe is,” lag sy.

Sy was vir ’n kort tydperk uit die onderwys.

“Ek het twee jaar lank programmeerwerk gedoen, maar het onderwys baie gemis veral daardie gevoel dat jy ’n belangrike bydrae gelewer het as ’n kind se punte verbeter. Onderwys is mos maar ’n lewenswyse.”

De Wet, wat in Zimbabwe groot geword het, het vier kinders: Santie, Kosie, Frank en Piet wat ook in Hoërskool Nylstroom op skool was.

“Ek is ’n buitelugmens en sien daarna uit om meer tyd te hê om te gaan stap en naaldwerk te doen. My vriende is almal reeds afgetree — nou kan ek ook dinge saam met hulle in die week gaan doen.”

Die Kumon-sentrum is nie verkoop nie en gaan sluit.

“Dit is vir my ’n groot jammerte dat niemand daarmee voortgaan nie, want kinders van sover as Bela-Bela en Vaalwater het daarby gebaat. Dit was altyd vir my ’n hoogtepunt as ’n kind wat net wou deurkom, se punte sommer baie verbeter het.”

Haar raad aan diegene wat stoei met hul wiskunde- en fisiese wetenskappunte:

“Oefen, oefen, oefen. Herhaling is baie belangrik. Moenie wag dat jy dit eers verstaan voordat jy dit doen nie. Doen dit totdat jy dit verstaan.”

Related Articles

Back to top button