Schools

Woede oor plek in skole

Hoewel die meeste leerders op Woensdag 11 Januarie by hul onderskeie skole aangemeld het, was daar talle wat weggewys is.

Van dié leerders het die dag doelloos in die strate rondgestaan, terwyl hul ouers en lede van die publiek betoog het.

’n Optog is vroegoggend in Spa Park in Bela-Bela gehou toe die gemeenskap en ouers van gr.8-leerders kapsie gemaak het omdat hul kinders nog nie kennisgewings ontvang het vir toelating by die Matamela High School, ’n uitbreiding van Spa Park Primary School, nie.

Betogers het die hoofroete na Spa Park met brandende bande, vullis en groot asblikke versper en geen personeellid van die skool of lid van die publiek kon toegang tot die terrein verkry nie.

’n Betoging van ontevrede ouers, wie se kinders nog nie toelating tot skole gekry het nie, het op Woensdag 11 Januarie in die Spa Park-gebied in Bela-Bela plaasgevind. Bande is gebrand en toegangsroetes is versper.

Die Bela-Bela-polisie, verkeersafdeling en verteenwoordigers van die departement van onderwys, was op die toneel om die betogers te moniteer.

Van die amptenare was gefrustreerd oor die protes en het gesê hulle kan nie onderhandel as daar nie verteenwoordigers van die groep ouers na vore kom om hul griewe te bespreek nie.

Departementele amptenare en personeellede het op en naby die toneel saamgedrom en kon dus nie met die skooljaar afskop nie.

Samesprekings sou na verwagting dieselfde oggend met verteenwoordigers van die plaaslike kringkantoor van die departement van onderwys plaasvind.

Van die ouers en leerders wat met Die Pos gesels het, sê hulle het verlede jaar voor die sperdatum in Augustus aansoek gedoen vir plasings, maar hulle het tot op hede nog geen terugvoering oor plasings gekry nie.

Talle ouers het aan Die Pos gesê dit is ’n tragedie dat hul kinders nie hul skooljaar sonder agterstande en probleme kon begin nie.

Die departement van onderwys het intussen ’n verklaring uitgereik wat lui dat hulle onverpoosd daaraan werk om aandag te skenk aan die plasing van leerders wat nog nie by skole in die provinsie geakkommodeer is nie.

Alle navrae en klagtes van ouers wie se kinders op ’n waglys in die Waterberg-distrik geplaas is, word tans deur die Lephalale-kringkantoor hanteer, lui die verklaring.

Ouers kan tel. 082 772 1619 vir meer inligting skakel.

Related Articles

Back to top button