Schools

Hoërskool Hans Strijdom hou Donkey Derby in Mookgophong

Die opgewondenheid was groot toe die “donkies” van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong aangetree het vir die “Donkey Derby” wat op Vrydagaand 25 November in die skoolsaal gehou is.

Die skoolsaal is soos ’n klein binnenshuise renbaan omskep en die leerders het donkies van besemstokke gemaak en meegeding. Die renbaan is in blokke ingedeel en die gaste kon geld op hul gunsteling donkie verwed. Die persoon wat die wendonkie gehad het, het ’n persentasie van die weddenskappe se waarde gekry. Ses donkies het om die beurt aan verskeie wedrenne deelgeneem.

Die heerlike geselligheid is aangebied om geld vir die skool in te samel. Volgens Bobby McLeod, bemarker van die skool, het die 170 gaste baie pret gehad.

Die organiseerders het ook ’n dans aangebied en ’n voortreflike driegangmaal aan gaste voorgesit.

Die jokkies wat hierdie volbloeddonkies gery het, was onderwysers en leerders van dié skool. Gaste het gesê dit was ’n uiters vermaaklike program.

Elke gas moes ook ’n interessante hoed op gehad het. Mariette Tomset en Johan Pont het die pryse gewen vir die oorspronklikste hoede.

“Hierdie was die eerste derby en sal beslis in die toekoms weer aangebied word. Ek wil elkeen bedank wat ons geborg en ondersteun het,” het McLeod gesê.

Die aand is afgesluit met ’n veiling van sportgedenkwaardighede en ’n kruiwa vol eet-en drinkgoed.

Related Articles

Back to top button