Schools

Spitbraai gehou vir goeie doel

Wat is nou beter as die reuk van skaap-vleis op ’n spitbraai in die hartjie van die Bosveld?

Gooi daarby die klank van jillende kinders in ’n swembad, ysblokkies wat rinkel in drankies en ’n pappot wat prut op ’n hardekoolvuur en jy het ’n wenresep.

Die Waterbergskool vir Christelike Volkseie Onderrig (CVO) in Modimolle het in 2021 hul eerste spitbraai-fondsinsamelingsbyeenkoms by die Umoya-vakansieoord net buite Bela-Bela gehou.

Die sukses van daardie byeenkoms, wat deur ’n groep ouers gereёl is, het dieselfde groep ouers gemotiveer om dit weer vanjaar aan te bied.

Mieliepap en tamatiesmoor prut in driepootpotte op ’n egte hardekoolvuur. Dit verg mannekrag om die pap met ’n spesiale ‘roeispaan’ te roer onder die wakende oog van twee makkers.

Harry van Rooyen het Die Pos genooi om die gesellige byeenkoms by te woon en eerstehands opregte plattelandse gasvryheid te ervaar. Hy het verduidelik dat die groep bestaan uit sewe egpare wat in Bela-Bela woon en wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Terwyl die sewe manne, in hul pienk proteavoorskote, moes sorg dat die vier skape en twee varke gespitbraai word en die mieliepap en tamatiesmoor in driepootpotte gaar kom, het hul vroue gesorg vir keuriggedekte tafels en heerlike bykosse wat kraakvars Griekse slaai, broodrolletjies en smullekker pampoentert ingesluit het.

Van Rooyen vertel dat hulle ’n skenking van drie varke gekry het waarvan een opgeveil is. Nog ander skenkings is ontvang waaronder twee oorspronklike skilderye, foto-afdrukke van wilde diere, bokse wyn en ’n unieke blesbokvel met appliekwerk. Alles is opgeveil en die opbrengs is aan die skool geskenk. Pieter van Rooyen (Harry se jonger broer) was die afslaer wat die veiling behartig het.

Harry van Rooyen (heel regs) saam met die ander spanlede, geklee in hul pienk protea voorskote, het sorg dat die vier skape en twee varke gespitbraai word en die pap en tamatiesmoor gaar is. Hul vroue het gesorg vir keurig gedekte tafels en heerlike bykosse.

Nog ’n familielid, Jan-Adriaan van Rooyen, beter bekend as Prop, het gesorg vir polsende musiek wat die voete behoorlik laat jeuk het. Hy sing al van jongs af en was van 2007 tot 2016 ’n baskitaarspeler vir die sanger Robbie Wessels. Sy nuwe musiekvideo “Bosveld vakansie” word op Vrydag 11 November vrygestel ná die weghol sukses van sy “Kwaaitjie”-video.

Daar is bykans 200 kaartjies verkoop en die ouers en kinders kon al vanaf 09:00 by die vakansieoord saamkom om die dag langs die swembad of onder die lapa te geniet. Die skool het hul groot markiestent beskikbaar gestel waaronder groot tafels gedek is vir aandete.

Die watertandlekker skaap- en varkvleis op die spit het alle verwagtinge oortref, maar dit was die pampoentert wat die ete perfek afgerond het.

Related Articles

Back to top button