Schools

Matrieks vir oulaas gegroet

Hoërskool Warmbad het sy 2022 matriekklas vir oulaas gegroet en al wat nou oorbly is die skryf van die finale nasionale eindeksamen wat op Maandag 31 Oktober begin.

Die Warries se matriektee is op Vrydag 21 Oktober gehou, gevolg deur ’n afsluitingseremonie op die rugbyveld waar elke matriekleerder ‘n ooreenkoms geteken het dat hulle hul kant sal bring soos versoek deur die departement van onderwys.

“Sukses word aan baie dinge gemeet, maar om net op sukses te fokus en dit na te jaag hou genoeg gevolge in. Jy is wat jy doen,” het Ds. Riaan Odendaal, Leraar van die NG Wes-gemeente, tydens die opening van die seremonie gesê.

Louis Cilliers, die Warries se nuwe skoolhoof, het die matrieks ook bemoedig om die finale uitdaging tot onafhanklikheid by die horings te pak. Maar om veral die eksamenreëls nie af te skeep nie — sienende dat enige versuiming van die reëls kan veroorsaak dat die betrokke leerder van hul nasionale kwalifikasie kan diskwalifiseer.

Die 2022-matriekklas van Hoërskool Warmbad moes tydens hul onlangse matriektee ’n ooreenkoms teken dat hulle die reëls van die finale nasionale eksamen sal nakom.

Die res van die leerders het ’n erewag vanaf die skool se lapa tot op die rugbyveld gevorm en die matriekklas voorspoed toegewens.

Die Nylstroom Duiweklub het ’n paar duiwe beskikbaar gestel wat op die rugbyveld vrygelaat is. Dit simboliseer dat die leerders vorentoe hul vlerke gaan moet sprei in die ‘grootmens-wêreld’.

Ná die seremonie het van die ouers by hul kinders gaan staan en daar is selfs hier en daar ’n traan weggepik.

Hoërskool Warmbad-matriekvriendinne, Talisha Roos, Mekayla Venter, Megan Prinsloo en Bianca van der Walt bereik die einde van die erewag-tonnel op die skool se rugbyveld.

Related Articles

Back to top button